‘n Fees vir oud en jonk
Die Nederduitsche Hervormde Kerk Springs-Oos bied vanaf 29 tot 31 Augustus hulle jaarlikse Fonteinefees ten bate van liefdadigheid aan.

Dit word gehou op die sportgronde van Hoërskool Dr Johan Jurgens.
Die fees skop Donderdagaand af met die baie gewilde rugbyonthaal, waar oud Springbok rugbyspeler Gerrie Germishuizen die gasspreker en Vicky Barnard die gaskunstenaar vir die sowat 400 gaste sal wees.
Vrydagmiddag is daar ‘n danskompetisie en dansers kan die geleentheid kry om dié aand saam met Nicholas Louw te dans.
Die Mnr en Mej Lente kompetisie is elke jaar ‘n groot trekpleister met soveel nuwe talent.
Om jou eetlus te bevredig is daar buitelugkos om van te kus en te keur. Van pap en kaiings, ouma se plaastal met pannekoek, warm en koue poedings, nostalgiese braaibroodjies, vetkoeke, wafels, burgers, boereworsrolle en wraps.
Natuurlik is daar die high tea wat saam met die queen in die teetuin geniet kan word.
Vir daardie leë plekkie by die huis is daar die naaldwerktafel, wit olifantstalletjie en ‘n groot verskeidenheid buitelugstalletjies om geskenkies uit te snuffel.
Saterdag is daar vermaak en kompetisies vir oud en jonk. Van die hoogste inflatable wall in die land, ‘n rissie eetkompetisie, ek-en-my-troeteldier, paintball, 501 veerpyltjies, koekversierkompetisie tot Feesbielie, Feesfeëtjie en Feesbaba kompetisies.
Daar sal ook ‘n mini hokkie-liga, volleyball toernooi, Super 6 laerskool krieket toernooi en ‘n internasionale korfbal wedstryd plaasvind op die feesgronde.
‘n R8 000 geskenkbewys, ‘n langverdiende vakansie vir 10 persone by Marloth Park en ‘n lewende os kan as pryse gewen word.
Vir die sport liefhebbers sal daar ‘n grootskerm wees vir die Saterdagmiddag rugbywedstryd.
Die hoogtepunt van die fees is die osbraai wat om 5:30nm begin waarna die kunstenaar Pieter Koen van Juke Box met sy optrede afskop.
Indien iemand belangstel om ‘n stalletjie te bespreek, kontak Katrien Prinsloo by 083 437 1039.
Kosstalletjies is ongelukkig almal bespreek.



