Groet die Grotman so gewild as altyd
Grotman en Elize is steeds gelukkig getroud, of is hulle?
Sien Groet die Grotman 2 29 September om 7nm by die Barnyard-teater, Emperors Palace, Kempton Park, en 10 to 13 Oktober by Mardi Gras-teater, Carnival City, Brakpan.
Lefra Produksies kondig met trots aan dat Wynand van Vollenstee (Karate Kallie) die rol van Grotman gaan speel.
Wynand is ’n bekende in die komiese teater en hy word deesdae ook gesien in Willie Esterhuizen se baie suksesvolle Ouboet en Wors, as Gielie.
Frans Swart het die teks geskryf en hanteer ook die regie.
Dit is twintig jaar later.
Grotman en Elize is steeds gelukkig getroud, of is hulle?
Die kinders is tieners met hul eiesoortige uitdagings.
Grotman het sy rookseine verruil vir WhatsApp-boodskappe, eposse, iPhones, Facebook en Twitter.
Die verskille tussen mans en vroue is steeds daar, want mans is van Mars en vroue van Venus.
In Groet die Grotman 2 word dié verskille op ’n komiese wyse uitgebeeld.
Vroue is steeds die gaarders (veral van nuttelose inligting) en mans steeds die jagters (van ’n bok tot ’n televisieprogram).
“Mans en vroue lag vir mekaar in Groet die Grotman 2 en dis juis wat hierdie produksie so gewild en sterk maak,” sê Swart.
“Mens kan amper sê ons doen huweliksberading op ’n komiese wyse.
“Die feit dat Grotman sy wêreldjie moet groter maak om by Elize se wêreld aan te pas en die feit dat Elize haar oop wêreld so bietjie nouer moet maak om by Grotman se wêreld uit te kom sorg vir baie komiese situasies.”
Die oorspronklike Groet die Grotman hou steeds die rekord vir die Afrikaanse teaterproduksie wat die meeste vertonings oor die langste tydperk gehad het, meer as 1 000 vertonings oor 10 jaar.
Lefra het die Grotman nou vir die afgelope agt jaar laat rus in sy grot, tjoepstil.
“Maar toe vanjaar spring daar ’n nuwe Grotman uit wat sê: ‘Hier is ek weer, ek is uit my grot uit en het baie nuwe stories om te vertel’,” vertel Frans.
Bespreek kaartjies by itickets.co.za



