News

Gerda Senekal bedank uit VF Plus

Sy het beklemtoon dat haar uittrede in die belang van die party is en dat dit vir haar 'n voorreg was om inwoners se "stem" in die Raad te wees.

VANDERBIJLPARK – Dit is ‘n groot terugslag vir inwoners van die streek. Raadslid Gerda Senekal, leier van die VF Plus in Emfuleni, het amptelik uit haar pos en die party bedank.

Sy was ook Gautengse Streekleier en Voorsitter van die VF Plus.

Senekal het oor baie jare haar hart, tyd en energie aan die gemeenskappe van Emfuleni gewy.

Haar rekord van diens spreek vanself.

Sy het oor jare konsekwent opgetree oor kwessies wat die inwoners van Emfuleni direk raak soos water- en rioolbesoedeling, elektrisiteitsvoorsiening, finansiële bestuur, munisipale aanspreeklikheid, dienslewering, onbillike heffings en die beskerming van inwoners se belange.

Raadslid Gerda Senekal van die VF Plus in Emfuleni het amptelik uit haar pos en die party bedank. Foto: Elsje Vermeulen

Amptelike bedanking

Die arrestasie van haar seun David Senekal, wat saam met ses ander ELM-werkers vir onder meer bedrog aangekla is, het egter tot die besluit gelei.

“Hierdie besluit is nie een wat ek ligtelik of alleen geneem nie. Die VF Plus het my versoek om met onmiddellike effek as raadslid én as kandidaat vir die komende verkiesing te bedank, nadat die party tot die gevolgtrekking gekom het dat die huidige mediaberigte en die omstandighede rondom die saak moontlik reputasieskade vir die party en gevolglik skade aan die VF Plus se verkiesingsveldtog kan veroorsaak,” sê Senekal.

Dit is hartseer dat dié kampvegter en ware yster in plaaslike politieke kringe se loopbaan op hierdie wyse tot ‘n einde kom.

Sy was die een van die plaaslike regerende party (ANC) op hul tone gehou, en soms warm onder die kraag gemaak het met ongemaklike vrae by vergaderings, ongewilde standpunte ingeneem en geweier het om stil te bly wanneer dit in die belang van inwoners was.

“Die berigte en bewerings rondom David het ’n openbare dimensie geskep waarin familieaangeleenthede maklik met my werk en diens as raadslid vermeng kan word.

“Ek wil dit baie duidelik stel dat my rekord en diens aan die inwoners op sy eie beoordeel moet word. Ek sal nie toelaat dat bewerings oor enige ander persoon gebruik word om die jare se werk wat ek vir Emfuleni gedoen het, te verdraai, te verkleineer of uit te wis nie,” sê Senekal.

Dankbetuiging

“Ek bedank die VF Plus opreg vir die geleenthede wat aan my gebied is om op plaaslike regeringsvlak en binne die party diens te lewer.

“Ek het die party se beginsels van aanspreeklikheid, deursigtigheid en verantwoordelike regering met oortuiging probeer uitleef.

“Ons het nie altyd gewen nie, maar ek glo ons het dikwels die belangrike vrae gevra wat ander verkies het om te vermy,” sê Senekal.

Sy het ook inwoners bedank wat haar oor die jare ondersteun, gekritiseer, gekontak en aangemoedig het.

“My bedanking uit die Raad beteken egter nie dat my verantwoordelikheid teenoor die gemeenskap eindig nie. Ek sal nie ophou om om te gee oor Emfuleni, die Vaal en die mense wat hier woon nie,” sluit Senekal af.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: [email protected]
Back to top button