Duisende skryf vir 100ste Comrades-marathon in
Inskrywings is Dinsdag oopgestel en duisende atlete het van die geleentheid gebruik gemaak.

Duisende Comrades-veterane, onder wie atlete van die Vaaldriehoek, het Dinsdag, 25 Augustus, die geleentheid aangegryp om vir die 2027 Comrades in te skryf.
Die eerste inskrywingsvenster maak voorsiening vir atlete met Groen Nommers, asook kwalifiserende Geel Nommer-houers wat volgende jaar hul tiende Comrades wil voltooi en só hul gesogte Groen Nommer wil verwerf.
’n Verdere 1 000 gewaarborgde inskrywings is deur die Amabeadibeadi-program beskikbaar gestel ter ondersteuning van die Comrades Marathon Association se amptelike liefdadigheidsorganisasies.
Die aantal inskrywings in elke kategorie is beperk en die onderskeie inskrywingsvensters sal sluit sodra al die beskikbare plekke gevul is.
Hoewel die Comrades-marathonvereniging nog nie bekend gemaak het hoeveel inskrywings ontvang is nie, dui die druk verkeer op die inskrywingswebwerf op groot belangstelling.
Die 2027 Comrades vind op Sondag, 13 Junie, plaas en sal die 100ste aanbieding van die wêreldbekende ultramarathon wees.
Belangstellendes kan die volledige inskrywingsproses en vereistes by www.comrades.com besigtig.
