Sedibeng se Khanyile se ongeruimdhede ontbloot
"Khanyile se aanstelling as munisipale bestuurder van Sedibeng is weer eens ‘n bewys van kaderontplooiing deur die ANC waar ‘n persoon wat hom of haar skuldig maak aan wanbestuur of korrupsie, beloon word met ‘n pos in ‘n ander staatsdepartement of in dié geval in ‘n munisipaliteit."

“Die VF Plus is nie verbaas oor Khanyile (munisipale bestuurder van die Sedibeng-distriksmunisipaliteit), in die King William’s Town-landdroshof op klagte van bedrog, diefstal en geldwassery nie.”
So lui die mediaverklaring wat Woensdag deur Amanda de Lange, VF Plus-LPW: Gauteng uitgereik is.
Khanyile en twee ander mense staan tereg op aanklagte van bedrog, geldwassery en diefstal van meer as R29 miljoen terwyl hy die hoof van die departement van ontwikkeling in die Oos-Kaap was. Hy en sy medebeskuldigdes moet weer in Oktober in die hof verskyn.
“Die Gautengse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), Lebogang Maile, het onlangs ‘n ondersoek aangevra na die Sedibeng-distriksmunisipaliteit, waaronder die plaaslike munisipaliteite van Emfuleni, Midvaal en Lesedi val, asook na die munisipale bestuurder.
“Adv. William Mokhari is deur Cogta aangestel om ongerymdhede van korrupsie, wanadministrasie, finansiële wanbestuur en nepotisme deur Khanyile en die Sedibeng-distriksmunisipaliteit te ondersoek,” vertel De Lange.
Die ondersoek behels onder meer of:
- Khanyile sy vrou se handtekening vervals het met die aankoop van ‘n R5 miljoen huis
- Hy meer as die ooreengekome salaris verdien het
- Sindiswa Mpeta onreëlmatig as direkteur in die kantoor van die munisipale bestuurder aangestel is nadat sy deur die Mnquma-munisipaliteit in die Oos-Kaap afgedank is weens bedrog en korrupsie
- Munisipale werkers onreëlmatig aangestel is
- Daar nepotisme was met die toekenning van beurse
Die VF Plus het onlangs die wetgewerkomitee vir Cogta om ʼn interne oudit gevra na die munisipaliteite van Emfuleni, Mogale City, Merafong en die Tshwane-metroraad.
“Die party sal nie huiwer om munisipaliteite wat onderpresteer, te ondersoek en ongerymdheid te ontbloot nie. Belastingbetalers se geld kan nie langer vermors word nie en moet oordeelkundig tot voordeel van inwoners aangewend word,” het De Lange afgesluit.
