News

Danie bou weer ‘n lewe op nadat besering hom van alles beroof

Danie se wonde word steeds deur Total Wound Care in die Vaaldriehoek behandel - 'n spannetjie mense vir wie hy die grootste lof het. "Ek kan hulle beslis aanbeveel," sê hy.

VEREENIGING. – In Julie vanjaar het Vaalweekblad berig oor ‘n Vaaldriehoekse man, Danie de Kock, wat feitlik alles wat hy en sy gesin gehad het, in die bestek van twee jaar verloor het. Dít was die gevolg nadat hy tydens ‘n vakansie by die see beseer is en uiteindelik die helfte van sy voet, sy werk en inkomste verloor het. Intussen moes dié moedige man ook teen Covid veg terwyl hy nou as ‘n gestremde steeds sy uiterste bes doen om weer ‘n dak oor sy en sy gesin se koppe te plaas.

Oor die dag van sy besering in 2019, vertel Danie só: “Ek en my familie het op die strand geloop toe iets dwarsdeur my rock and surf-skoene in my regtervoet ingesteek het. Weens my diabetes het ek nie gevoel in my voete nie en het ek dit nie dadelik agtergekom nie. My vrou het my voet later die dag behandel maar ek moes ook gaan vir ‘n velskraap. Ons is van een wondsuster na ‘n ander maar niemand wou dit behandel nie. Hulle het die wond net skoongemaak en verbind,” vertel Danie.

“Ek het uiteindelik in die Sasolburg-hospitaal beland, waar my toon langs die groottoon op ‘n onverklaarbare manier gebreek is. Die aanvanklike wond het net erger geword. Danksy ‘n vriend het ek van Total Wound Care in Vereeniging gehoor, wat probeer het om my voet te red, maar na die agteruitgang in die hospitaal was dit te laat. My tone en die helfte van my voet moes geamputeer word,” sê Danie.

Hy woon al 25 jaar in die Vaaldriehoek en het ‘n goeie werk by ‘n plaaslike steenvervaardiger gehad, maar na die besering en amputasie kon hy nie meer sy werk doen nie en moes afgelê word. Die De Kock-gesin moes leer om met meet-en-pas op sy werkloosheidsuitbetaling te oorleef. Die egpaar het sedertdien alles verloor wat hulle deur die jare bymekaargemaak het.

Die amputasiewonde sukkel steeds om te genees, en omdat Danie moeilik loop, het ‘n diabetiese wond intussen ook onder sy ander voet gevorm. Hy het ook probleme met hipergranulasie, ‘n toestand wat veroorsaak dat die liggaam aanhoudend oormatige weefsel in en om ‘n wond vorm en genesing teenwerk. Die oorgroeide weefsel moes onlangs in ‘n teater verwyder word, maar die waglys by Gautengse staatshospitale was so lank dat hy met die hulp van familie en vriende na Kaapstad is, waar hy baie professionele behandeling ontvang het. Danie se wonde word ook steeds deur Total Wound Care in die Vaaldriehoek behandel – ‘n spannetjie mense vir wie hy die grootste lof het. “Ek kan hulle beslis aanbeveel,” sê hy.

Hy het ook groot dank vir Vaalweekblad se lesers en sakelui wat die gesin na die vorige berig met skenkings bygstaan het sodat hy ‘n houthuis kon koop vir ‘n erf wat sy suster vir hulle in Unitaspark beskikbaar gestel het. Hulle beplan om groentetuine daar aan te lê vir ‘n inkomste. Hy het ook ‘n skenking van sement gekry om ‘n fondasie te gooi en benodig nou net sand en klip, en materiaal vir die omheining.

“Ons is regtig so dankbaar vir almal wat ons help. God het almal op ons pad gesit en ons kan nie genoeg dankie sê nie.”

* Enigiemand wat Danie en sy gesin wil ondersteun, kan hom by 082 220 0829 kontak. Alternatiewelik kan ‘n EFT-inbetaling gedoen word by Capitec Bank, Rekeninghouer: DJ de Kock, Spaarrekeningnommer: 1729064688.

 

Onder: Danie se amputasiewonde word steeds uitstekend deur Total Wound Care in Vereeniging behandel. WAARSKUWING – DIE FOTO HEEL ONDER VAN DIE WONE AAN DANIE SE VOET KAN SENSITIEWE LESERS ONTSTEL. MOENIE VERDER ONDERTOE SCROLL AS JY DIT IE WIL SIEN NIE

.          

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

                 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button