Is dit die verdagte hondedief?
Die groot roofvoël wat ’n paar weke gelede in die Blanchville omgewing opgemerk is, is onlangs op kamera vasgevang.

Inwoners van Blancheville, Die Heuwel en Hoëveldpark het gegons oor dié ‘geveerde gevaar’ wat in dié areas rondsweef. Eienaars van klein miniatuur of dwerg Dobermann hondjies het glo ook rede om te vermoed dat hul honde nie veilig buite en in sig van die skerp-oog roofdier is nie.
Soos ’n kenner by Witbank Natuurreservaat, mnr. Johan Combrink, in ’n vorige uitgawe van WITBANK NUUS (7 Februarie) vertel het, is daar min roofvoëls in eMalahleni wat sal kan prooi maak op honde.
Die Bruinjakkalsvoël was die mees verdagte kandidaat toe een van die inwoners, me. Nolene Reyneke, die voël beskryf het as bruin- en geelkleurig.
Die onlangse foto’s wat geneem is van die voël is egter te onduidelik en kan daar nie met sekerheid vasgestel word wat se tipe voël dit is nie.
*As jy ’n voëlkenner is of dink jy kan die ‘roofvoël van Blancheville’ uitken, sien die foto’s op WITBANK NUUS se Facebook-blad en lewer kommentaar.