Identiteit van die Blanchville-roofvoël bekend
“Niemand weet dat ek die Kaalwang-valk heet,” sou die groot voël in Blancheville dalk sing as hy ’n stem gehad het.
Die African Harrier-Hawk of dan die Kaalwang-valk is die naam wat WITBANK NUUS lesers aan die ‘verdagte hondedief’ gegee het. Meeste reken dat dié voël onskuldig is en dat dit glad nie in sy natuur is om klein hondjies te vang nie. “Hy sal nie sommer klein brakkies vang nie, maar niks is onmoontlik nie,” het mnr. Freek Nel op Facebook geskryf.
Die debat oor die raaiselagtige voël wat gereeld in Blancheville en ook in Die Heuwel en Hoëveldpark opgemerk is, het ’n paar weke gelede begin toe ’n paar inwoners hul kommer uitgespreek het oor die roofvoël wat moontlik klein miniatuur Dobermann hondjies as sy prooi gesien het.
Een van die honde-eienaars se hondjies het verlede jaar uit sy erf uit vermis geraak en nog ’n eienaar (van byna ’n 400 gram klein, jong hondjie) was bekommerd toe sy die breë-vlerk dier ’n paar keer naby hul huis gewaar het.
“Hy steel ons hase, hy is kort-kort hier, dit lyk vir my soos die African Crowned Eagle,” het Antoni Janse van Nieuwenhuizen op facebook gesê nadat ’n foto van die voël, wat deur een van die inwoners geneem is, op facebook was.
Alhoewel die foto onduidelik was het meeste gereken dat dit soos die Kaalwang-valk lyk.
Die Bruinjakkalsvoël wat voorheen verdink was as die ‘roofvoël van Blancheville’ is nou vrygespreek en inwoners het op nuut begin bespiegel oor die voël wat moontlik of glad nie diere uit mense se erwe sal kan haal.
Mnr. Pieter Joubert kon meer oor die Kaalwang-valk uitbrei en het ook ’n telling van die voëls wat in die omgewing woon.
“Die valk sal neste in rotsskeure en in boomholtes plunder. Hy sal nie ’n hond vang nie. Hy is te klein daarvoor. Die Bruinjakkalsvoël was nog nooit in ons omgewing nie, want sy prooi kom nie by ons voor nie. Hier is wel Witkruisarende in ons omgewing, maar hulle vlerkspan is te groot om in ’n prooi in ’n te probeer vang. ’n Roofvoël sal nie homself beseer ten koste van sy prooi nie.”
Die Kaalwang-valk is ’n omnivoor wat se dieet meestal uit vrugte en klein werweldiere (vertebrate) bestaan. Die volwasse voëls is ’n vaal gryserige kleur, terwyl die jonges meer bruinkleurig is.
Kenmerkend van dié voël is die dubbel-gelede (double-jointed) knieë wat dit in staat stel om te klim en, soos Joubert vertel, dan prooi maak op kleiner voëlspesies wat neste maak in rotsskeure en in boomholtes.
Me. Bridgette Schoeman en menige ander inwoners het gemaan dat die voël in Blancheville nie beseer moet word nie. Sy het gesê dat daar ’n definitiewe afname is van wild as gevolg van soveel uitbreidings in die stad.