Local newsNews

Dubbel mastektomie, maar sy bly positief

‘Kanker’ die ses letter woord wat soveel vrees inboesem. Vir Karin Coomer het kanker die ses-letter woord geword wat nie in haar woordeskat geplaas gaan word nie.

Borskanker is in 2007 by die fyn en klein mensie gediagnoseer. Wat haar geval so uniek maak is dat sy toe prostese gehad het en dié het medici stomgeslaan.

“Ek het eendag ’n brandpyn in my bors gevoel, kompleet soos iets wat hard gekneus was. ’n Mammogram het gewys dat ’n aggressiewe tipe kanker homself in my bors tuisgemaak het. ’n Biopsie is gedoen en voor ek my oë kon uitvee het ek kanker gehad,” het sy vertel.

Karin het in September met chemoterapie begin en albei haar borste is verwyder.

“Daar staan jy in jou strykplank-haarlose- lyfie en probeer sin maak van die beeld in die spieël. Dan besef jy dit is presies hoe jy in die lewe ingekom het, so suiwer en onskuldig. Jy begin wonder hoe die mense in die dorp na jou kaalkop gaan kyk.”
Karin het gesê haar ydelheid is die eerste hindernis wat sy oorwin het.

“Daar is pruike van alle kleure en style, vals oogwimpers, wenkbrou-potlode en daardie baie belangrike ‘push-up’ bras,” het sy in dieselfde asem opgenoem.

Karin se tweede hindernis was ‘self-haat’ soos sy dit gedoop het en vergifnis was haar metode om hiermee vrede te maak, “Om te vergewe is die grootste genesing – vergewe jou geliefdes, jou naaste en meestal jouself, net dan word die kaalkop al hoe mooier en die behandeling makliker.”

Sy beskryf haar geestelike faset as ’n oorwinning oor negatiwiteit.
“Ons koppies is ons kontrolekamers wat ons hele lyf beheer, maar dink nou net eenkeer jy is vet, dan kan jy more maar gaan weeg. Jy het waarskynlik 1kg opgetel, want die lyfie glo alles wat jy vir hom sê om te glo. So vertel hom elke dag “kanker? watse kanker?” en vertel hom jy is blakend gesond.”

Daar is nie tyd vir selfbejammering nie, so nou en dan skuif daar ’n skaduwee oor haar oë, maar voor jy daaroor kan uitvra breek ’n sonskyn-glimlag weer deur en golwe van positiewe lewenslus bruis deur haar. “Jy is nie die eerste en gaan nooit die laaste een wees met kanker nie. Besef een ding, kanker is ’n ervaring wat jou sterker, mooier en wonderliker maak. Jy kry ’n platform om ander mense te help en aan te moedig. Selfbejammering is negatief, afbrekend en help nie genesing nie.”

Ek is nie ’n ‘survivor’ nie, ’n ‘survivor’ is iemand wat iets oorleef

Ek is ’n oorwinnaar. Oorwinning is finaal en dit is met die hulp van God en ek weet die kanker is finaal en vir ewig genees.
“Om vandag hier te kan wees is met die hulp van my Skepper, wonderlike kinders, familie en vriende wat ek so innig lief is voor. Die voorreg om hulle ’n drukkie te kan gee is elke stap van die weg die moeite werd.”

Karin het op 1 April 2008 skoon getoets en vandaar af het elke toets keer op keer gewys die kanker is weg.
“My arms is oop vir enige iemand wat ondersteuning nodig het en wat nou deur kanker gaan. Al wil julle net praat, of sommer sit en huil of vertel van julle ondervinding en sommer net stoom afblaas, kontak my: 082 929 3785,” het sy uitgenooi.

*Die Kansa Shavathon vind Vrydag 28 Februarie by Salon La Rochelle in OR Tambostraat en Vrydag en Saterdag 1 Maart by Highveld Mall plaas.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button