CrimeEditor's choiceNews

Lamppaal helder oordag gesteel

Hoeveel keer sit Jan Alleman nie en lag vir die program ‘The world’s dumbest thieves nie’?

Weereens blyk dat eMalahleni ook hul kwota ‘dumbest thieves’ het.

’n Man is Saterdag 12 April afgeneem terwyl hy besig was om ’n lamppaal te steel en in sy kar se kattebak te laai.
“Dit was die vreemdste ervaring,” het me. Elsabé Newton vertel. Die lamppaal het so ’n rukkie terug reg voor haar huis in Van der Merwestraat omgeval. Alhoewel  sy dit gerapporteer het, het die stadsraad nie die paal kom verwyder of weer teruggesit nie.

“Ek dink amper die paal het onder afgeroes en dis hoekom dit na ’n hewige storm omgeval het,” het sy vertel.
Sy het tussen die lagbuie vertel dat sy haar oë nie kon glo toe sy terugkeer huis toe net om te sien hoe die man in die wit Ford by die lamppaal stop en dit met behulp van sy makker agter in sy kattebak laai nie.

Terwyl sy die hek toemaak kon sy darem ’n video van die hele petalje neem. “Ek het dadelik die polisie geskakel, maar daar was geen antwoord nie,” het sy gesê.

Nadat sy ’n foto van die kar op die sosiale netwerk geplaas het, het dit behoorlik gegons en ’n hele paar redes vir die lamppaal-diefstal is geplaas.
“Hulle verskoning gaan wees, dit het nie gewerk nie, hulle het dit ingevat vir ‘repairs’,” het me. Suzanne van der Merwe geskryf..
Mnr. Antoane Kok Meyer het geskryf, “Wat op aarde wil hulle met ’n lamppaal doen? Lekker gelag nou. Lyk my ’n Ford kan ook enige iets handle!”

Mnr. Fanie Broodryk het ook op die foto gereageer, “Nee julle is almal verkeerd hy gaan net die paal begrawe want die lamp het seker al ’n jaar terug gevrek.”

“Brakpan vuurvlieg in Witbank, dink hy het sy adres verkeerd, dog dit gebeur net in die movies,” het Jan-Hendrik Ras geskryf.
Polisiewoordvoerder, kapt. Eddie Hall, het by navraag gesê dat hulle al ’n geruime tyd probleme met die nasionale 10111 noodnommer ondervind. Hy het gevra dat inwoners van eMalahleni die 013 655 5052 op hul selfone stoor om in geval van enige nood te skakel.

Mnr. Theo van Vuuren, die stad se administrateur het gesê nou kan hy ook sê hy het nou alles gesien.
“Ons het ’n program in plek om na die straatligte te kyk. Die spesifieke lamppaal was op die lys om in die nabye toekoms herstel te word sodra ons al die nodige materiaal gehad het. Die elektriese afdeling is aangesê om al die drade netjies toe te gaan maak om die area veilig te maak,” het Van Vuuren gesê.

As jy weet wie die lamppaal gesteel het of die kar herken, skakel Zita Goldswain: 083 431 9811 of 013 656 2490.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button