Die twee verdagtes het Maandag 19 Januarie in die Witbank Landdroshof verskyn vir ’n borgaansoek.
Die borgaansoek is uitgestel tot Maandag 26 Januarie om vas te stel of hulle vaste adresse het. Hulle het nog nie gepleit nie.
Die verdagtes is op 10 Januarie gearresteer op die moord van mnr. Antonie Grobler.
Grobler is op 6 Januarie in sy huis in Uitbreiding 10 aangetref met 13 messteekwonde in sy bors.
Die verdagtes het in Grobler se Hyundai Atos op die vlug geslaan. Sy voertuig is in Springs teruggevind nadat die opsporingstoestel geaktiveer is.
Een van die verdagtes het sy ma, ’n vriendin van Grobler, gebel en gevra vir geld vir kos. Sy het hom oorreed om huis toe te kom nadat die man as verdagte deur die polisie geïdentifiseer is.
Sy het hom en sy vriend, die tweede verdagte, in Springs opgelaai en na eMalahleni gebring. Toe hulle by die Sasol garage in Klipfontein stop, het die polisie hulle ingewag.
Die ma het WITBANK NUUS Maandag na die hofsitting gebel en gevra of sy haar kant van die storie kan kom vertel omdat mense haar ‘stenig’ nadat sy haar seun en sy vriend oorreed het om hulself oor te gee.
“Mense weet nie wat dit aan my gedoen het nie,” het sy telefonies gesê.
Sy het ook genoem dat sy nie geld het om die twee verdagtes se borg te betaal nie.
Sy het egter Dinsdag nie vir die onderhoud opgedaag nie en laat weet dat sy besluit het om niks te sê nie.
