‘Pad van die dood’ en wat het gebeur
Die slag van metaal teen metaal was meer luid as die gedreun van swaar weer.
’n Storm het uitgesak oor die ongelukstoneel waarin ’n man Donderdag 22 Januarie om 18:15 dood en een kritiek in die hospitaal is.
Op die draai in OR Tambostraat (oppad na die ou-Middelburgpad) het bystanders angstig in die reën rondgestaan waar ambulansdienste met die hulp van Witbank 911 die beseerdes op die toneel gehelp het.
Die pad was afgeskort kort nadat drie voertuie, ’n rooi Volkswagen Polo, ’n silwer Ford Focus en Toyota minibus vol passasiers in ’n botsing betrokke was.
Volgens bystanders op die toneel het die silwer Ford met die Polo van agter af gebots en toe die minibus, wat in die teenoorgestelde rigting gery het, getref. Die minibus is op sy sy aangetref en van die passasiers het by die vensters uitgeklim na die botsing. Merkwaardig is geen van die 14 passasiers of bestuurder erg beseer nie en was hul net met ligte beserings van die toneel vervoer na Witbank Provinsiale Hospitaal asook Life Kosmos Hospitaal.

“Ek kom van Pretoria,” het die bestuurder van die minibus, mnr. Kenneth Williams, na die ongeluk vertel. “Ek was oppad na die ou Middelburg pad toe ek sien hoe die Ford Focus, na hy die ander kar getref het, op my afpyl!”
Volgens Williams kon hy nie kans kry om weg te draai voordat die motor sy minibus getref het nie. Die minibus het met impak omgeslaan.
“Die 14 passasiers was meestal jong mense,” het Williams verder vertel en gesê hoe verlig hy is dat niemand in sy taxi ernstig beseer is nie.
Die bestuurder van die Polo, mnr. George Mkhwanazi, het Maandag 26 Januarie vertel: “Ek was oppad huis toe en het gewag om regs te draai in die straat wat ek altyd huis toe vat. Ek het ’n ruk gewag vir aankomende verkeer om verby te ry voor ek wou draai. Ek het net ’n slag van agter af gevoel soos wat die ander voertuig met myne bots.”
Mkhwanazi is meters weg van die ander twee voertuie in sy motor gevind. “Ek het steeds erge rugpyn en moet weer teruggaan dokter toe om seker te maak dat dit niks ernstigs is nie,” het Mkhwanazi gesê, wat ook gelukkig was om met ligte beserings uit die wrak van sy voertuig te ontsnap.

Die bestuurder en passasier in die Ford Focus was nie so gelukkig nie…
Mnr. Anthony Pienaar is steeds in kritieke toestand na nooddienste gesukkel het om hom uit die motor te kry. Hy is later van Witbank Hospitaal oorgeplaas na Life Kosmos Hospitaal.
Die bestuurder van die voertuig, mnr. Wilhelm Myburgh, is aan erge beserings kort na die ongeluk dood.
“Hy was almal se Wimpie,” het ’n emosionele me. Linda Ferreira vertel. Op 18 September sou ons 14 jaar saam wees.”
“Hy was net ’n wonderlike mens! Ek en sy kar was sy lewe,” het Ferreira gesê en vertel van die groot skok toe sy van die ongeluk gehoor het.
“My Trosie, ek mis hom so baie. Elke minuut van die dag. Ek gaan sit elke dag ’n blom neer waar die ongeluk plaasgevind het…” Ferreira se stem het gebreek toe sy vertel dat Wimpie op sy verjaarsdag begrawe is.
Die roudiens het Woensdag 27 Januarie plaasgevind.

*Die vraag wat lede van die gemeenskap steeds vra is: Hoeveel lewens nog in gevaar gestel word voordat daar iets aan die pad gedoen word? Mense verwys na dié gedeelte van OR Tambo as die “pad van die dood” omdat verskeie mense die afgelope tyd in noodlottige ongelukke hiér betrokke was.
*Die saak waarin drie jong mense byna vier jaar gelede in ’n ongeluk in OR Tambostraat dood is, kom weer Donderdag 26 Februarie in Witbank Landdroshof voor.

