
“Tot ons kerke moet nou toegebou word soos tronke, om kriminele uit te hou,” het ’n lid van die gemeenskap onlangs gesê.
Die eerste inbraak verlede naweek, Saterdag 21 Maart, was by die Sewendedag Adventiste Kerk toe verdagte(s) glo deur ’n venster van die saal deurgebreek het om ’n grassnyer, kantsnyer (wheat eater) en elektriese verlengingskoorde te steel.
“Ons is nie seker wanneer hul hier ingebreek het nie. Die skoonmaker was laas Woensdag hier, waarna alles toegesluit was,” het mnr. Marthinus Barnard vertel.
“Dis snaaks dat ons ook nie gekontak was deur sekuriteit toe die inbraak plaasgevind het nie,” het Barnard verder gesê en na die alarmstelsel verwys wat moes afgaan na die venster gebreek is.
Barnard het vertel dat dit nie die eerste keer is wat verdagte persone eiendom van die kerk gesteel het nie. “So ’n ruk terug het ons pallisades om die kerk opgesit en daar was tot van dié pallisades gesteel.”

Verdagte persone is steeds onbekend en geen arrestasies was sover gemaak nie.
Maandag 23 Maart, tussen 02:00 en 03:00 het mnr. Amos Khanyi ook ’n inbraak gerapporteer by die AGS Neo Doxa Kerk, na hy glo wakker geword het van geluide naby die kerkkantore.
Na Khanyi ’n verdagte persoon by die kantoor gewaar het, het die verdagte ’n rekenaar-monitor laat val voor hy gevlug het.
Twee rekenaar-skerms en ’n kleinkas is uit een van die kantore gesteel. Daar is glo drie verdagtes opgemerk by die kantore wat groot verwoesting agterna gelaat het, na hul die deur van een van die kantore afgebreek het om toegang te kry tot in die perseel.

Vingerafdrukke is die volgende dag geneem deur die polisie se forensiese-span, maar geen arrestasies is nog gemaak nie.
