Die man wat die reputasie dra omdat hy sy slagoffers met ‘n hamer aanval, is Woensdag 25 Maart is Witrivier gearresteer.
Nkosi was op die polisie se mees gesoekte lys nadat hy twee keer uit aanhouding ontsnap het.
Die eerste keer was op 1 Desember 2009 terwyl hy verhoorafwagtend was op verskeie roofsake.
Skaars twee weke na sy ontsnapping het hy na bewering ’n man so erg met ‘n hamer aangeval het, dat hy een van sy vingers verloor het.
Op 22 Januarie het hy weer toegeslaan. Op daardie noodlottige dag het hy glo mnr. Johan Venter in sy plaashuis doodgeskiet. Venter se vrou, Rentia is tydens die aanval in die hand geskiet.
Nkosi wat toe bekend gestaan het as die Hamerman is kort na Venter se moord in Carolina gearresteer.
Maar voordat die reg sy gang kon gaan het hy weereens ontsnap dié keer uit polisieselle op Middelburg.
Vir vier maande het Nkosi ’n lae profiel gehou tot die wrede aanval op ‘n verloofde paartjie in ’n boshut by Pienaarsdam op 7 Maart verlede jaar.
Mnr. Deon van der Merwe en me. Catharina Fourie, voorheen inwoners van eMalahleni, is in die vroeë oggendure deur ses aanvallers in die boshut oorval. Van der Merwe is met ‘n panga op sy been gekap en vier keer met ‘n hamer oor die kop geslaan. Hy was bewusteloos na die genadelose aanval.
Fourie is ook met die panga gekap en gemartel. Sy het die verdagte wat Van Der Merwe met die hamer aangeval het, later positief uitgeken nadat sy ‘n foto van hom gesien het.
Op die foto pryk Nkosi met sy kenmerkende bokbaardjie net soos Fourie hom beskryf het.
“Hierdie is net die begin van ’n emosionele stryd wat ons moet loop. Ek gaan uiteindelik die kans kry om hom in die oë te kyk,” het Fourie sag tydens ’n telefoniese onderhoud gesê.
Sy het gesê sy en Van der Merwe woon nou in Kroonstad.
“Deon het sy werk verloor, ons het alles verloor. Dis tyd vir ’n nuwe begin,” het sy gesê.
