‘Ons honde-kinders, ons trots’
Mnr. JP en Mev. Alincke Oosthuizen se kinders is hulle alles.
Lupita, Atticus, Gater en Diega is nie net jou gewone honde nie. Hierdie honde is skou-honde.
Hulle liefde vir honde is in albei ingebore, Alincke het vir JP sy eerste Pitbull gekoop in 2011 vir sy verjaarsdag. Hulle het begin skou en het nou vier Pitbull-kinders. Die honde slaap by hulle op die bed in die aand. Hulle kry wel sekere tipe hondepille, maar wanneer dit kom by vleis is dit kos wat JP en Alincke sal eet.
Die Oosthuizen’s het nie kinders nie, so hulle vier honde is hulle hele lewe. Een van die honde is selfs met ‘n fopspeen en bababottel grootgemaak.
Hulle is opreg en geregistreerde Pitbulle. Vir elkeen se verjaarsdag word daar partytjie gehou. Hulle bak kolwyntjies, die verjaardag hond kry ‘n hoedjie en daar word vir hom of haar gesing. Elke hond kry ook ‘n kersgeskenk elke jaar wat hulle self moet oopmaak.
Hierdie honde word opgelei as skouhonde. Maar dit is nie ‘n modeparade nie. Hulle trek gewig, byt vas en hang aan ‘n vervoerband en spring ook vir ‘n rekord hoogte. JP sê dat die honde geoefen word om hieraan deel te neem. Daar is geen prysgeld betrokke nie. Slegs trofeë wat jy kan wen.
Hierdie honde word geklassifiseer as ‘n ‘American Fighter.’ Maar JP reken dat met die regte handleiding, kan hierdie hond jou beste vriend word. Daar word beweer dat hierdie honde teen mense kan draai. Volgens JP en Alincke moet jou hond net reg grootgemaak word. Hierdie honde is vegters so vir Lupita, byvoorbeeld, is dit die grootste uitdaging om die trollie en haar gewigte daarop, te trek. Of sy nou oefen en of dit by ‘n kompetisie is, hierdie wyfie Pitbull se mond water as sy die vervoerband sien en weet sy moet nou spring. Sy word met ‘n harnas vasgemaak wat spesiaal vir haar gemaak is. Dit moet op die regte plek op die hond se lyf wees, anders maak dit die hond seer. Sy trek dan met begeleiding van JP, die koekepan-trollie met gewigte daarop. Die swaarste wat sy al getrek het was 2.5 ton. Dit is vir die hond ‘n groot uitdaging. Sommige honde trek hierdie gewigte as hul eienaar ‘n stuk lekkerny of kos voor hulle hou, maar Lupita en Atticus doen dit slegs met opdrag. JP staan voor die hond en moedig die hond aan om die koekepan te trek met gewigte op. Hy het verduidelik, dit soos ‘n hond se kop wat ‘aangeskakel’ word vir werk wanneer hy die trollie en gewigte sien.
Hulle bly op ‘n plot en daar is dus genoeg spasie vir die honde om te oefen.
“Dit is baie toewyding en die honde moet daagliks geoefen word. Maar ons geniet dit verskriklik baie en as ons eers begin het kan ons nie ophou nie,” het Alincke gesê.
Wanneer die honde op die vervoerband hang, dan spring hulle om die band te vang en daaraan vas te byt met hulle tande. In kompetisies is die kwalifiserende hoogte 1.65m. Daarna word daar tyd gehou van hoe lank hulle kan hang aan die band. Lupita se rekord tyd was ongeveer 24 minute.

Hulle is ook verskriklik erg oor speelgoed. En as daar nie speelgoed naby is nie, kou hulle aan enige ding wat voorkom. Dit het die Oosthuizen’s al ‘n hele paar rand gekos om hulle kinders se tande te laat regmaak as hulle klippe in die hande kry en daaraan kou.
Maar hoe begin die honde dan nou spring?
“Jy los net ‘n vervoerband naby die hond. Na so paar dae sal jy sien die hond spring en hang aan die belt,” het Alincke gesê.
Die honde spring ook vir ‘n rekord hoogte. Hulle kry drie pogings. Die beste uit drie word dan ingeskryf.
Die honde moet 18 maande en ouer wees om te kan spring en hang. Oor twee jaar kan hulle begin trollie trek.
“Ons weet tot wat is ons honde in staat. Ons sal hulle nooit druk om meer of beter te doen as wat hulle kan nie. Hierdie is ons kinders en ons doen dit omdat hulle dit geniet, sowel as ons. As een van die honde seer het dan stop ons dadelik. Dit gaan nie oor wen nie, maar wat die beste is vir jou hond,” het JP gesê.
Gater en Diega is nog te jonk om aan hierdie kompetisies deel te neem. Maar sodra hulle oud genoeg is gaan hulle ook deelneem.
Vir die Oosthuizen’s is dit belangrik dat hulle honde met opdrag loop en dat jy nie die hond terg nie. “Hulle moet dit doen omdat dit vir hulle lekker is, nie omdat hulle met ‘n beloning geterg word tot by die eindstreep nie,” was pappa JP se woorde.
Volgens die ASPCA (The American Society for the Prevention of Cruelty to Animals) is die Pitbul afkomstig van die English bul – lokaas hond. Hierdie honde was geteel om te byt en aan bulle, bere en ander groot diere aan die nek en gesig vas te hou. Maar na dit in die 1800’s gestop was, was hierdie honde deurmekaar geteel sonder om hulle generiese oorsprong in ag te neem.
Die ASPCA meen dat hierdie honde jou grootste vennoot kan wees en dat hulle ook geteel word om te werk asook vir kameraadskap. Hulle kan ook ‘n man se beste vriend word. Hulle moet net reg hanteer en grootgemaak word.
‘n Pitbul moet korrek geteel word, anders is die hond se gene deurmekaar en dan is wilde en onhanteerbare pitbulle die resultaat.
“Hulle is ons kinders en sal as niks minder behandel word nie,” was die woorde uit Alincke se mamma-hart.
