CrimeNews

Ubuntu bestaan

Daar is nog goeie mense.

Daar is nog goeie mense.

Daarvan kan ’n boer van Plaas Holfontein langs die N17 getuig.

Tussen sement-gooi het mnr. Kosie van der Merwe vertel dat hy Donderdag 10 Augustus hier in die Steenkoolstad van sy selfoon beroof is toe hy by ’n verkeerslig gestop het.

Kosie is besig met teorie vir sy vlieglisensie en moes deur die sentrale besigheidsdistrik ry.

“Daar by die tweede laaste verkeerslig vra ’n man my vir ’n sigaret en om dankie te sê pluk hy ’n lang mes uit en vra vir my selfoon. Jy oorhandig maar jou foon want ou besef jou lewe is meer werd. Ek het die swaap agterna gesit met my bakkie maar hy het tussen die skare verdwyn. Ek het maar vrede gemaak my foon is koebaai.”

Hierdie storie het darem ’n gelukkige einde.

Taxibestuurders het die rower gevang. Hulle het toe die laaste nommer op sy foon geskakel en by Kosie se vriend uitgekom wat op sy beurt sy vrou Janie gebel het.

Kosie het ’n selfoon geleen en Janie gebel om te vertel van die voorval toe sy vir hom sê sy weet reeds en hy moet taxistaanplek toe gaan, want sy selfoon is teruggevind.

“Hierdie boer was nie baie gemaklik daarmee nie, maar het toe besluit om maar te gaan. Op pad daarheen moes ek stop vir aanwysings toe daar ’n kar langs my stop en die man vra of ek die man van die gesteelde selfoon is. Die man klim toe sommer in my bakkie. Ek moes maar kophou en glo hier gaan iets goeds gebeur.”

By die taxistaanplek was Kosie maar skugter en skrikkerig.

“Ek was so seker hierdie was ’n lokval en hierdie boer was nie baie genoeë nie. Ek het gevoel soos Piet Retief teen Dingaan se oormag. Maar soos ek nader stap het ’n groep taxibestuurders begin handeklap en ‘cheer’.”
Die taxibestuurders het die mes vir Kosie gewys en toe hy dit identifiseer het hulle sy selfoon vir hom teruggegee.
“Hulle het my gevra of ek darem vir hulle ’n koeldrank sal koop. Ons is eers na ’n bank, maar ek kon nie geld trek nie en ons is toe te voet na ’n garage toe waar ek R400 getrek het om vir die hele groep sommer koeldrank te koop. Dis toe die een taxibestuurders my vra of ek al ooit in ’n taxi gery het. Net daar is ek in die taxi en ons ry terug staanplek toe. Ek kan die belewenis nie in woorde omskryf nie. Dit was oorweldigend,” het Kosie vertel.

Vir dié boer was dit ’n openbaring om te sien hoe moeg die hele land vir misdaad is.

“Hulle is virseker nie so ‘bad’ nie en het alle verwagtinge oortref. Dit gee mens weer hoop en hulle is net so gatvol vir die misdaad en rassisme.”

Kosie het nou nuwe vriende gemaak en hulle gesels daagliks met mekaar oor die selfoon.

“Ek is ’n kind van die Here. En ek wonder vir wat sou Hy so iets oor my pad bring? Dit het ’n selfoon gevat om my sienswyse te verander. Vandag sal ek sonder huiwer in ’n taxistaanplek instap.”

Kosie se foto’s en video aanlyn op sosiale media is reeds 5 000 keer al gedeel en die kommentaar stroom in.

LEES OOK

https://www.citizen.co.za/witbank-news/96011/skrikwekkend-hoe-gewapende-rooftogte-toeneem/

https://www.citizen.co.za/witbank-news/85070/gewapende-rowe-eis-sy-tol/

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button