
Dagga is een van die mees gesogste dwelms, omdat dit meer bekostigbaar is as van die ander dwelms op die mark.
Die polisie in eMalahleni het behoorlik hulle hande vol om dié dwelm van die strate af te hou.
Die afgelope week het die polisie die koop en verkrygbaarheid van dagga weereens verminder met drie arrestasies.
Op 11 Augustus het twee verdagtes hulself weggegee met hul verdagte optrede. Die twee verdagtes is in Alexanderstraat voorgekeer en deursoek, waarna dagga in hul besit gevind is.
Die polisievoertuig se bankies was nog nie eers koud na die eerste twee verdagtes wat gevang is nie, toe nog ’n verdagte man gevang is in Diedericksstraat. Hy is op die toneel gearresteer en sal binnekort in die hof verskyn op ’n klagte van die besit en handel van dwelms.
’n Inwoner en ma van ’n gewese dwelmverslaafde kind het haar hart oopgemaak aan ander ouers wat dalk dieselfde demoon baklei.
“Ons as ouers kan nie die feit mis kyk dat dwelms ’n epidemie in beide eMalahleni en die land is nie. Jy kan jou kinders net tot ’n stadium toe beskerm en dan net glo dat jy as ouer jou kinders reg grootgemaak het. Want ons wil hê hulle moet verantwoordelik wees, goeie keuses maak en hul doelwitte bereik. Maar die waarheid is, ons sal nie altyd daar wees om hulle te beskerm nie. Niemand kan skuld kry vir wat jy as individu doen in jou lewe nie, maar daar is altyd ’n keuse,” het sy verder vertel oor die stryd met haar dogter se verslawing.

Pakkies dagga wat gevind was by die verdagtes
Sy het vir ’n oomblik stil geword en met ’n harder stem begin praat oor die wraak wat sy het vir dwelmhandelaars.
“My probleem is dat ons polisie hulle moeg werk om hierdie stille moordenaars elke liewe week van ons strate af te haal net om in die hof te sit en te hoor dat die man wat jou kind amper die dood laat sien het, vrygespreek is, ’n waarskuwing of net gemeenskapsdiens as straf gekry het,” het sy gesê.
Die erns lê nie net in die gebruik en verkrygbaarheid van dwelms nie, maar die leemte van bekostigbare hulp in die Steenkoolstad meen nog inwoners.
Die stigter van Xtreme Buddies, een van die plekke waar slagoffers hulp kan kry, me. Elize Banks het gesê:
“daar is so min plekke waar geliefdes kan praat oor hierdie dwelmhel waarin hulle daagliks lewe. Ons bied geestesgenesing en groepe waar diegene met ander kan gesels oor hul dwelmhel.”
Vir enige hulp of berading kan Elize by Xtreme Buddies gekontak word: 013 697 4066. Xtreme Buddies is geleë in 53 Hans Strydomlaan.
Die plaaslike tak van die Suid-Afrikaanse Raad teen Alkohol- en Dwelmmisbruik kan ook gekontak word by: 013 656 2370 vir hulp.
LEES OOK
https://www.citizen.co.za/witbank-news/83892/geen-dagga-vir-nuwejaar/
https://www.citizen.co.za/witbank-news/96069/tracing-unit-members-arrest-three-suspects-drugs-dagga/
