
Mnr. Mike Botha (45) sterk tans steeds by die huis aan na hy op sy plot aangeval en sy been met ’n skoffel oopgekap is.
Die voorval het Saterdag, 2 September op Riverview-plotte plaasgevind.
Na ’n operasie in ’n Johannesburgse hospitaal is Mike op 16 September uit die hospitaal ontslaan. Hy het Maandag, 9 Oktober bevestig dat die inligting wat in vorige artikels deur sy broer, Willem, deurgegee is, die korrekte gebeure tydens die aanval was. Hy het ook gesê dat hy steeds ’n opening voor in sy been het waar die gebreekte been deur die vel gesteek het.
“Ek het ’n dreineringspyp om al die vog uit die been te dreineer. Die infeksie is vir eers onder beheer en ek hoef gelukkig nie meer Johannesburg toe te ry nie, ek sien ’n suster by ’n wondkliniek hier in die stad.”
Hy het ook gesê dat daar nie genoeg vel is om die opening te laat heg nie, so ’n moontlike veloorplanting is heel waarskynlik nodig.
“Maar dit kan eers gebeur wanneer die dreineringspyp uit is en die wond van die binnekant, buitentoe gesond word,” het hy bygelas.
Hy het ook gesê dat die verdagte wat hom aangeval het, meer as ’n jaar vir hom gewerk het.
“Ek dink nie hy het sommer net die oggend opgestaan en besluit om dit te doen nie. Die ding was mooi beplan, want my voorman was ook weg vir die naweek. Ek het my bespiegelinge oor wat dalk daartoe gelei het, maar niks kan bewys word nie. En hier was ook geen rusie of iets soortgelyk tussen my en die werknemer nie. Ek het ’n voorman en praat met hom, hy dra boodskappe aan die ander oor,” het Mike vertel.
“Indien daar enige probleme is, word dit uitgesorteer.”
Botha het ook bygevoeg dat mnr. Willie Erasmus, ’n goeie vriend van hom wat tot sy redding gekom het op die dag van die aanval, ’n saaknommer by die polisie gekry het, maar geen verdere verklarings is by Botha geneem deur die polisie nie.

Mnr. Mike Botha (45) sterk tans by die huis aan na ’n aanval op sy plot op Saterdag 2 September.
“Ons het hulle al meer as een keer geskakel en hulle het gesê dat iemand my sou kom sien, maar ons wag steeds,” was Botha se woorde.
Hy het gesê dat die moontlikheid dat sy wit Ford Ranger, wat ook in die aanval gesteel is, opgespoor kan word nie groot is nie.
“Ons was in kontak met die versekering en hulle het verlede Woensdag gesê dat ons kan voortgaan met die eis, dit klink of die bakkie weg is.”
WITBANK NUUS het Vrydag 8 September berig dat Botha op sy plot aangeval is, vermoedelik deur een van sy werknemers.
Die aanval het op bogenoemde Saterdag vroegoggend plaasgevind toe die werknemer aan sy deur kom klop het en gevra het vir hulp met ’n slang op die plot. Die verdagte het hom van agter met ’n skoffel bygedam en in een van die woonkwartiere op die perseel aan sy eie genade gelos. Erasmus het hom hier gekry, ongeveer 11:00 daardie oggend na hy ongeveer vyf ure in die woonkwartier spandeer het. Hy is na Life Cosmos Hospitaal geneem met Legacy Emergency Specialists en kort daarna per helikopter na ’n hospitaal in Johannesburg geneem.
Inhoud van sy huis is ook gesteel en niemand is nog in hegtenis geneem in hierdie verband nie.
Slegs ’n saak van voertuigdiefstal is by die Witbank Polisie oopgemaak. Dit volg nadat sers. David Ratau, polisiewoordvoerder kort na die aanval gesê het dat ’n volledige dossier oopgemaak sal word wanneer Botha uit die hospitaal ontslaan word.
ALSO READ
https://www.citizen.co.za/witbank-news/98872/groenteboer-sterk-goed-aan-na-aanval/
https://www.citizen.co.za/witbank-news/98766/nuusflits-man-op-plot-aangeval/
