CrimeNews

‘Hardloop of ek skiet jou’

Die gedagte dat hy nooit weer sy familie sal sien nie het Dinsdag 28 November oor en oor in sy gedagtes gemaal

“Groet die mense wat jy liefhet voordat jy in die oggend die voordeur agter jou toetrek.”

Mnr. Colin Bosch (45) het diep asemgehaal nadat hy daardie sinnetjie gesê het. Die gedagte dat hy nooit weer sy familie sal sien nie het Dinsdag 28 November oor en oor in sy gedagtes gemaal, terwyl hy agter ’n voertuig vasgemaak gelê en die koue loop van ’n vuurwapen teen sy kop gevoel het. Bosch is gekaap toe hy twee mans vir ’n toetsrit geneem het.

Mnr. John-Ross Duncan, eienaar van KB Car Sales het vertel dat twee mans belangstelling in sy Range Rover Sport getoon het.

“Ek wou nie regtig die kar verkoop nie, maar die twee mans het aangehou en gevra of hulle kan voel hoe die kar ry. Hulle was netjies aangetrek en boonop vriendelik, glad nie hoe jy sal verwag ’n skelm sal lyk nie,” het Duncan vertel.

Hy het Bosch, wat ook sy skoonpa is, gevra om die twee mans om die blok te neem vir ’n toetsrit. Hulle het gesê hul kar was by ’n karwas net ’n entjie op in die straat.

“Ek het besig geraak en na sowat ’n halfuur besef Colin is nie terug nie. Ek het probeer bel, maar sy selfoon was af. Net daarna het die polisie van Middelburg my gebel en gesê my skoonpa is by hulle.”

Bosch het die traumatiese oggend herleef en vertel dat hy onkant gevang is toe die een man wat vir hom vertel het hy is ’n werktuigkundige, ’n vuurwapen te voorskyn gebring het.

Die mans het Bosch gedwing om op sy selfoon na sy bankdienste te gaan om kyk of hy geld in sy bankrekening het. Hulle het die kontant uit sy beursie gevat en ook sy selfoon geneem

“Hulle het my hande agter my rug vasgemaak met draad en my agter die sitplek ingeboender, op my getrap, en die vuurwapen heeltyd teen my kop gehou,” het Bosch vertel.


Mnr. Colin Bosch is Dinsdag 28 November gekaap.

Bosch kon voel hoe die bestuurder deur die verkeer vleg, maar hy het gou rigting verloor.
Die bestuurder het na ’n rukkie die voertuig tot stilstand gebring en vir Bosch gesê om te hardloop of hulle skiet hom.

“Met my hande agter my rug vasgemaak was ek heeltemal van balans af. ’n Entjie voor my was daar struike. Ek het biddend daarheen gehardloop en agter die struike gaan sit. Ek kon die pad net effentjies sien.”

Minute het verby gedraal en toe Bosch seker was die kapers was weg het hy pad se kant toe gehardloop. Hy het hom letterlik in die buurdorp se polisie vas gehardloop.

“Die polisieman het gevra wat ek soek, want hulle was besig met op ’n moordtoneel. Al wat ek wou weet was, waar is ek?”

Hy is polisiestasie toe geneem waar Duncan hom gaan haal het. Die Range Rover is nog steeds weg.

Twee dae later het Duncan amper weer ’n stel afgetrap.

“’n Vrou wou ’n kar koop. Sy het so 11:50 hier aangekom en senuweeagtig gesê sy het ’n kar teen 12:00 nodig. Ek het aan haar probeer verduidelik dat dit nie moontlik was nie en haar gevra om eers die geld in te betaal alvorens ek aan haar enige kar sou verkoop.”

Die vrou het om 14:30 weer teruggekeer, die keer met ’n bewys van betaling.

“Die rooi vlaggies het dadelik begin wapper toe ek sien die geld is nog nie in my rekening nie. Ons albei bank by FNB. Ek het vir haar gesê sy moet bank toe gaan sodat die geld dadelik in my rekening reflekteer. By die bank het sy die bewys van betaling gevat en heeltyd op haar selfoon gepraat. Toe ek die bewys van betaling nader bekyk het ek gesien sy het alreeds om 11:22 ’n bedrag van R87 000 oorbetaal. Sy het eers ’n halfuur daarna by my aangeklop. Ek het dadelik geweet hierdie is bedrog en myself dom gehou.”

Toe Bosch vir haar sê sy het te veel inbetaal hy wil net R69 000 vir die kar hê, het sy gesê hy kan die verskil kontant vir haar gee, want dis haar kommissie omdat sy die kar namens haar broer gekoop het. Hy het haar lank aan ’n lyntjie gehou en sy is later toe vort sonder die kar of die kontant.

“Ons as klein besigheidsmense moet so paraat wees. Daar is skelms om elke hoek en draai. Ek maak nou dubbel seker voor ek enige transaksie deurvoer,” het Bosch ten slotte gesê.

LEES OOK

https://www.citizen.co.za/witbank-news/52985/mislukte-kaping-verander-in-skietgeveg/

https://www.citizen.co.za/witbank-news/103351/another-month-another-account/

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button