CrimeNews

Nog besighede die teiken, geld en selfone gesteel

Besighede bly steeds die teiken van diewe en rowers, week na week.

Besighede bly steeds die teiken van diewe en rowers, week na week.

Op Woensdag 14 Februarie het ’n besigheid in die sentrale besigheidsdistrik skade gely nadat ’n groot bedrag geld geroof is.

Volgens die winkelbestuurder wat aan diens was, het een van die werknemers na hom gekom en gesê dat daar rowers in die winkel is. Hy het gaan kyk en twee mans by die kasregister gewaar en ’n ander by die deur, met ’n vuurwapen in sy hand.

Die winkelbestuurder het ook aan polisie vertel dat een van die mans iets geskree het. Hy het daarna ’n skoot afgevuur en geld uit drie kasregisters geneem.

LEES OOK

Besighede beroof, eienaars moet skadegeld opdok

Rowers doen ‘inkopies’ by talle besighede

Die vermeende rowers is weg met ’n onbekende bedrag geld en geen koeëldoppie is op die toneel gekry nie.

Tydens nog ’n inbraak ’n dag tevore is kontant, sigarette en selfone gebuit. Op Dinsdag 13 Februarie het ’n winkel in Die Heuwel onder rowers deurgeloop toe twee mans glo direk na die eienaar gestap kom met ’n vuurwapen in sy rigting.

Hy is deur die rowers beveel om in die motorhuis in te gaan en homself daarin toe te maak toe die rowers hul hande op kontant, sigarette ter waarde van ongeveer R2 000 en twee selfone gekry het. Nadat die verdagtes weg is, het die slagoffer die sekuriteitsmaatskappy in kennis gestel, wat hom kom help het.

Beide sake word deur die polisie ondersoek.

Back to top button