Wanneer die uile hoe-hoe, is Chantelle Jansen van Vuuren daar om te verseker dat niks skort nie.
Sy en Piet Wassenaar het vinnig hulp verleen om te verseker dat ’n uilgesin nie uitgewis word nie.
Piet, wat alombekend is vir die slange wat hy gereeld vang, het op Donderdag 16 Mei ’n dringende versoek raakgelees om te help dat ’n uilgesin nie doodgemaak word nie, nadat die nonnetjiesuile nes geskrop het in ’n huis se dak.

Piet het dadelik vir Chantelle gekontak en hulle is uit na die huis.
Hier het hulle op 10 baba uile afgekom.
“Die ouers van die uile was nie daar nie, ons vermoed hulle het heel waarskynlik gaan kos soek. Die inwoners van die huis het gesê dat hulle eers gedink het dit is slange in die dak, want die uile maak ook so sis-geluid. Ons het toe die babas verwyder en gevra hulle moet nie die ouers doodmaak nie, maar eerder net kans gee. Hulle sal wel trek as hulle sien hul babas is nie meer daar nie,” het Chantelle gesê.

Chantelle, met ’n spesiale soort liefde vir voëls van enige veer, het na die uile omgesien tot hulle na die Owl Rescue Centre gegaan het.
“Een van die groter uile het Vrydagaand bietjie in skok in gegaan en ek het hom amper verloor, maar gelukkig nie. Dit gaan baie goed met die uile, hulle gaan nou vir ongeveer agt tot 10 weke by die Owl Rescue Centre wees waar hulle geleer gaan word om te vlieg, self kos te soek en onafhanklik te wees. Hulle het tans geen kontak met mense nie, hulle is eintlik reeds in die wild. Hulle word nou net ingestel om sterk te word,” het Chantelle gesê.

Graag wil Piet en Chantelle die dame wat die boodskap op Facebook geplaas het bedank, en te danke aan haar is die uile se lewens gespaar.
Vir enige soortgelyke gevalle waar voëls se lewe moontlik in gevaar kan wees, kan Chantelle gekontak word by 082 568 1319.
