uBhetyan-O-Africa en hul wild
Renoster-eienaars doen hul alles in hul vermoë om hul diere te beskerm, ongeag die kostes en wat dit mag verg
Pogings om renosters veilig te hou blyk soms ’n onmoontlike taak te wees.
Renoster-eienaars doen hul alles in hul vermoë om hul diere te beskerm, ongeag die kostes en wat dit mag verg.
Op Vrydag 31 Mei is die Tag-a-Rhino fondsinsameling gehou.
Susan en Deon Cornelius van uBhetyan-O-Africa, het ’n natuurlike en persoonlike verbintenis met renosters en is net buite Middelburg gebaseer.
“Ons het nou vyf renosters oor. In 2015 het ons drie verloor deur renosterstropers en ons het ’n opsporingstoestel gehad, maar die nuwe een wat ons gaan kry glo ek is baie meer effektief,” het Deon vertel.
Die vorige toestel is agter die oor van die renoster vasgesit, maar die stropers het die toestel doodeenvoudig afgeskuur.
“Die nuwe toestel kom bo-op die oor en weeg ook baie minder. Die vorige toestel het so 53 gram geweeg, waar hierdie een se gewig nou op 30 gram is. Die toestel stuur noodseine uit, byvoorbeeld as die renoster te lank stil staan, te vinnig beweeg en daar is lewensaktivering op die toestel. Jy kan op jou foon hoor wat by jou renoster aangaan.”
Deon het bygelas dat jy die parameters om jou plaas kan stel en dat die alarm dadelik skree wanneer die dier hierby verby beweeg.
Ook wanneer daar hoë desibels naby die dier is, word dit opgetel.
“Dit is nie noodwendig te sê dat dit die stropers gaan minder maak nie, maar dit gaan die reaksietyd beslis verbeter,” het Deon bygevoeg.
Hy het gesê dat uBhetyan-O-Africa nie net renosters het nie, maar baie ander wilde diere.
“Ons het ook ’n rehabilitasiesentrum vir wilde diere, ons doen projekte en ons is ’n ‘veilige hawe’ vir die wild wat dit sou nodig kry. Ons het talle karnivore, doen opleiding, en is betrokke by plaaslike, sowel as buitelandse veeartse,” het Deon verduidelik.
Deon het vertel dat uBhetyan-O-Africa oorspronklik 13 jaar gelede begin het as ’n ‘familieding’ en het iets soveel groter geword.
uBhetyan-O-Africa het so drie jaar gelede hul rehabilitasiesentrum geopen en sedertdien het hulle reeds ongeveer 55 luiperds deur die sentrum gehad.
Hul Facebook-blad het meer inligting, kontakbesonderhede en foto’s.
