Local newsNews

Só gaan renosters beskerm word

Cowley Anti-poaching het besluit om ’n fondsinsameling te hou, en so is die ‘Tag-a-Rhino’ fondsinsameling gebore

Renosterstropery maak reeds opslae in die land vir ’n geruime tyd.

Cowley Anti-poaching het besluit om ’n fondsinsameling te hou, en so is die ‘Tag-a-Rhino’ fondsinsameling gebore.

Die geleentheid het Vrydag 31 Mei plaasgevind en almal wat ’n liefde vir dié dier het, was daar. SmoKings het gesorg dat almal se magies stampvol is, met heerlike kos te kies en keur.

Verversings was beskikbaar, hope vermaak en ook natuurlik ’n optrede deur Ann Jangle, wat binnekort vertrek na Botswana op haar splinternuwe fiets – alles vir fondse vir wilde diere.

Die dag het om 14:00 afgeskop en ’n helikopter was gereed om almal die area te wys.

Die groep van SAFOMAR Holdings het hierdie ritte geborg en hulle is ook baie nou betrokke by die voorkoming van renosterstropery. Mnr. Shai Shalem, hoof uitvoerende-beampte van die maatskappy het die dag se verrigtinge bygewoon en vertel dat hulle betrokke is by talle landbouverwante-projekte.

“Ons is wel ’n lugvaartgroep, maar ons is versot op wild en natuur. Ons het ook ’n groot deel daarin om die renosters te bewaar en Fiona Hall is ons ‘leader of the pack’. Sy het ’n baie groot liefde en passie hiervoor, en sy is ook betrokke by ons opleidingsfasiliteit.”

Soos die son begin sak, het vuurdansers gewys hoe lekker dié sport eintlik is en Ann Jangle het vanaf 20:00 tot 22:00 haar passie op die verhoog met almal gedeel.

Die dag was gevul met familiepret en hoewel dit die eerste in sy soort was, sien die organiseerders uit na nog baie suksesvolle dae wanneer hierdie dag ’n instelling in eMalahleni word.

Organiseerders beplan om hierdie elke jaar, die laaste naweek in Mei te hou.

Vir verdere inligting of donasies vir hierdie doel, epos gerus antipoaching@cowley.africa of skakel 0861 wildlife (0861 945 35433).

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button