Ann, Kevin en Gypsey rock ’n roll
Aan die woord is Ann Jangle – ’n ‘wille-kind’, ’n gypsey rock and roll musikant en ’n honde-liefhebber wat die land vol reis om honde en ‘wille diere’ te help red
“Ek is van die Kaap. Ek het verlede jaar Julie alles verkoop en begin toer.”
Aan die woord is Ann Jangle – ’n ‘wille-kind’, ’n gypsey rock and roll musikant en ’n honde-liefhebber wat die land vol reis om honde en ‘wille diere’ te help red.
Tydens haar stop hier in eMalahleni, waar sy ’n draai gemaak het by die ‘Tag-a-Rhino’ fondsinsameling, vertel hierdie unieke mens op haar eie besondere manier van gesels dat sy ’n ingebore liefde het vir diere. Sy is reeds 11 jaar in die musiekbedryf en het onlangs besluit om ’n hond te kry, genaamd Kevin.
“Want hoe anders ‘tame’ jy ’n wille-kind? Jy gee vir haar ’n hond.” Dit was Ann se manier om in ’n mate te begin ‘settle’.
Sy was tot in Europa en het ’n ‘twelve piece band’ gehad vir baie jare. Hulle genre was Gypsey Rock ’n Roll en vir Ann was musiek en die langpad haar lewe.
“Ag, en toe besluit ek ek is moeg vir te veel mense en min geld. Mens moet ‘survive’, jy weet. Ek het so omtrent ’n jaar en ’n half terug solo gegaan en my hond het my lewe gered. Meer as wat ek sy lewe gered het. Mense besef dit nie altyd nie. Hy maak my meer gefokus, en ek het weer verlief geraak op wie ek is,” het Ann verder gesê.
Tussen die winterstof en geselsies deur, het Ann kort-kort geloer na waar Kevin is.
Hy is Ann se anker, laat sy jou so terloops weet.
“Ek het reeds 26 000 kilometer gedoen en oor die drie ton hondekos ingesamel. Ek was altyd gefokus op ‘domestic’ honde. Al die geld wat ek maak met my ‘shows’ gaan vir honde en vir my en Kevin om te ‘survive’. Ek het hondehokke hier in Mpumalanga vir ’n klomp honde gekoop. Ek het in Zululand ’n ‘outreach’ gedoen. Maar, ek het ook ’n baie groot liefde vir wille diere,” het Ann vertel.
Sy het toe besluit dat dié diere hulp nodig het en dat sy vir hulle ook iets wil doen.
“Ek was al op soveel ‘game drives’, ‘nature walks’ en die wild het regtig die hulp meer nodig. Toe besluit ek om Kenia toe te ry. Jy weet, Cape to Kenya het net so lekker ‘ring to it’. En toe besef ek ek gaan ’n ‘carbon footprint’ los en dan wat’s die punt? So nou gaan ek fietsry! Van Kenia tot in Botswana,” het sy met ’n kinderlike opgewondenheid gesê.
“My inspirasie is eintlik Willie Badenhorst wat met ’n toek-toek gery het. Dit het hom nege maande gevat, want die toek-toek kon net 40 kilometer per uur ry. So sit ek een dag in die dokter se spreekkamer en lees in ’n tydskrif van die ou en sy toek-toek. Ek skeur toe so skelmpies die bladsy uit en druk dit in my sak. Later praat ek toe met my vriendin oor my Kenia-trippie en sy sê toe sy sal my in kontak bring met iemand wat my kan help. Ek ontmoet toe die toek-toek ou, min wetend dat dit hy is!”
Ann beplan om van die Ramotswa-grens tot in Botswana te ry met haar fiets, waar sy dan by die ‘Kalifi New Year Fest’ gaan stop.
Matthew de Jongh het haar fiets geborg, en hierdie spesifieke ‘trippie’ doen Ann vir die Afrika Wildehonde.
Vir meer oor Ann Jangle en dit waarmee sy besig is, gaan loer gerus op haar webtuiste www.annjangle.com.
