Local newsNews

Tannie Anne se vryheid is beperk

Sy het haar regter been in 2016 verloor en ’n jaar daarna moes sy haar linker been ook laat amputeer weens haar diabetes

Tannie Anne Mouton is op 70-jarige ouderdom nog heel fluks, besig en aan die gang, maar omdat sy haar bene verloor het as gevolg van diabetes, is dit ’n daaglikse stryd om rond te beweeg.

“Jy sal my nie glo nie, maar ek was ’n swemmer van formaat op my tyd. Ek het dit as beroep gedoen. Ek het swemlesse gegee en dit as sport afgerig in my jonger dae,” vertel tannie Anne heel trots.

Alhoewel sy haar daagliks besig hou met ditjies en datjies, smag dié tannie om meer dikwels vry rond te beweeg in Edenpark aftreeoord waar sy woon.

Sy het haar regter been in 2016 verloor en ’n jaar daarna moes sy haar linker been ook laat amputeer weens haar diabetes.

Sy ry met haar rolstoel na buite haar woonstel en begin haar daaglikse stryd demonstreer.

“Soos jy kan sien is dit ’n helse helling wat ek daagliks moet opkom as ek van die eetsaal af terugkeer, of as ek iets buite my woonstelletjie moet doen. Hierdie is net die begin van die uitdagings daagliks.”

Sy stoot haarself verder af met die paadjie, stop en sê, “sien jy hierdie opdraande? Nou by hierdie opdraande sit ek soms en wag vir meer as 10 minute vir ’n sekuriteitswag om my op te help, want dan kan ek net nie met my eie kragte hier opkom nie.

Na die demonstrasie stoot pastoor Joe Cawthorne haar weer op na haar woonstelletjie toe.

“Ek maak voorskote en verskeie items vir ’n ekstra geldjie, maar dit sal nooit genoeg wees om my eie elektriese rystoel te koop nie,” het sy saggies gesê.

Sy meen dat daar steeds engele oor haar pad kom.

Soos die dame wat haar nou en dan assisteer winkels toe en die sekuriteitswagte wat haar menige kere uithelp, maar op die ou einde is haar vryheid eintlik sό beperk.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button