Local newsNews

Rizpah het nuwe toevoeging

’n Nuwe voertuig, geborg deur ’n plaaslike borg, is onder groot blydskap aan Maya oorhandig

Die nuutste toevoeging tot die Rizpah bediening is twee pleeghuise wat reeds vir baie jare getrou deur Maya Elkens bestuur is.

Die twee huise, geleë in Die Heuwel en bekend as House of Hope, funksioneer vanaf 1 Mei ook nou onder die sambreel van Rizpah wat hande geneem het met Maya.

’n Nuwe voertuig, geborg deur ’n plaaslike borg, is onder groot blydskap aan Maya oorhandig.

Rizpah bedien die gemeenskap reeds sedert 2005 toe die eerste pleegsorghuis, Die Pottebakkershuis, geopen is deur die NG Kerk Klipfontein.

Die projek, wat sedertdien gegroei het tot agt pleeghuise en plek van veiligheidshuise met bykans 70 kinders in hul sorg, word bestuur deur Rizpah onder leiding van Anet Jansen en Ds. Louis Cloete in samewerking met CMR Witbank.

Rizpah bestuur en ondersteun ook Spring Valley kleuterskool waar ongeveer 30 kleuters elke dag veilig versorg word terwyl hul ouers moet werk.

Rizpah se beleid is geskoei op Rizpah van 2 Samuel 21:8-10 ‘wat nie toegelaat het dat die roofvoëls of wilde diere naby haar kinders kom nie’.

Rizpah se leuse is: ‘Ons gee om/we care’ en kinders van die gemeenskap wat behoefte het aan sorg en ’n plek van veiligheid, word ingeneem en versorg.

Die Rizpah huise wat geleë is in Tasbetpark, Klipfontein, Ogies, Die Heuwel, uitbreiding 16 en Del Judor is gebaseer op die ‘Cluster Foster Care’ model waar behoeftige kinders in ’n normale huis die geleentheid kry op ’n hoopvolle toekoms.

Die betrokkenheid en ondersteuning van die NG Kerk Klipfontein, die CMR en die gemeenskap van Witbank is onontbeerlik vir die volhoubaarheid van die projek.

Die Rizpah bediening is ’n nie-winsgewende organisasie wat beskik oor ’n BEE sertifikaat en in samewerking met die CMR geregistreer is vir ART 18 A ingevolge die Wet op Belasting.

Die bediening se fokus is die welsyn van behoeftige kinders in ons gemeenskap en ras en kerkverband is dus nie ter sprake nie.

Enige persoon of instansie wat betrokke wil raak of ’n bydrae wil maak, is welkom om die projekbestuurer, Anet Jansen by 083 666 1507 te kontak.

Die CMR kantoor se nommer is: 013 692 4862/70/72 en dit kan ook geskakel word indien jy bewus is van ’n kind in nood of belangstel om goedgekeur te word vir pleegsorg of aanneming.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button