Jan-Hendrik Olivier se skaam glimlag breek so nou en dan deur.
Maar sy oë vertel ’n ander storie.
Sy siel is stukkend en hulle sê die vensters van jou siel is in jou oë.
Dis dalk hoekom hulle effe versluier is, asof hulle die hartseer wil binne hou of dalk nie meer hartseer wil binnelaat nie.
Jan-Hendrik is die dwelmverslaafde wat by die verkeersligte, veral in Mandelastraat, knielend gebid het.
“Ek het regtig gebid,” het hy tydens ’n eksklusiewe onderhoud aan WITBANK NUUS gesê.
“Ek het gebid dat God my deur die dag sal beskerm. Ek het gebid vir genoeg geld vir ’n ‘fix’ en miskien iets om te eet.”
Die 30-jarige man is al 10 jaar op straat.
Hy het voorheen in Middelburg gebly, maar eMalahleni se strate toe sy huis gemaak.
“Dwelms het die gat toegemaak waar ek gedink het liefde moes wees. Ek het ’n ma. Ek is baie lief vir haar, maar ek dink ek het haar net te seer gemaak.”
Jan-Hendrik het vertel dat hy elke dag die duiwel in sy are gespuit het en ‘rocks’ gerook het.
“Vroeg in die oggend bring die ‘dealer’ vir my my eerste ‘fix’. Dis ‘mahala’. Jou ‘dealer’ word jou ‘lifeline’. Ek kon in die oggend nie wag om sy gesig te sien nie. Deur die dag het ek by die verkeerslig gebedel. Om R200 te maak is niks nie. Solank ek R110 kon maak was ek ‘happy’. Twee fixes kos R60 en ’n ‘rock’ kos R50.”
’n Weldoener het Jan-Hendrik se pad gekruis en hom by Arise Restoration Center (ARC) in Bronkhorstspruit ingeboek.
“Hier kan ek myself weer vind. My gedagtes en my hart werk net nie saam nie. Dis heeltyd oorlog. In my hart weet ek dat Jesus die uitkoms is. Ek weet ek kan hier gesond word, maar my kop speel ‘Russian Roulette’ met my. My hele wese skree vir ’n ‘fix’,” het Jan-Hendrik gesê.
Hy het die eerste paar dae van onttrekking beskryf as die hel.
“Alles was seer. My vingers en my tone het gebrand, dit het gevoel asof iemand ’n miljoen naalde oral in my lyf insteek. Ek het bitter trane gehuil, vreesbevange gedroom en gesmeek. Ek het niks meer gehad om te gee nie.”
By ARC het Jan-Hendrik geleer dat hierdie die begin van ’n baie lang en eensame pad is, maar dat daar tog hande is wat hom omvou met liefde en hom sal optel as hy struikel.
“Ek gaan regtig hard probeer om die dwelmhel agter te los. Ek wil ’n normale lewe hê. Ek wil my ma gaan druk en sê alles is ‘fine’, ek is ‘fine’.”
