Kapelane huiwer nie om te help
Rhyno en Almerie verleen ’n oor om te luister, ’n gawe om te beraad en om die gemeenskap by te staan wanneer dit voel hul wêreld stort in duie.
Die stad se kapelane staan saam wanneer jy hulp die nodigste het.
Saam met Charles Steyn, die stad se kapelaan oor wie daar verlede week berig is, staan Rhyno en Almerie Pretorius ook nou saam om uit te reik na dié wat dit nodig het.
Rhyno en Almerie verleen ’n oor om te luister, ’n gawe om te beraad en om die gemeenskap by te staan wanneer dit voel hul wêreld stort in duie.
Rhyno het vertel dat hul eerste ontmoeting met ’n kapelaan vyf jaar gelede was, toe hul bygestaan is tydens Almerie se pa se afsterwe.
“Hy was saam ons, van die ‘call’ tot na die begrafnis. Ons is aan dié lewe blootgestel en hy het ’n nuwe lig gewerp op wat ’n kapelaan doen,” het Rhyno vertel.
Hulle het intussen na eMalahleni verhuis en in 2017 was daar ’n ongeluk wat dié egpaar tot in hul siele geruk het.
“Dit was op die OR Tambo-draai, waar ’n oom en sy kleinkinders in ’n ongeluk was. Die oupa is oorlede en die kinders was vasgevang in die warboel van emosies en deurmekaarspul. Wie is op die einde daar vir die familie?” het Almerie gevra.
So het die twee met Charles in kontak gekom en besluit dat dit iets is wat hulle baie graag wil doen.
Dit het hul passie geword en vandag dra hulle hul SAFReC wapens met baie trots.
Hulle het vroeg vanjaar by SAFReC aangesluit nadat hul die behoefte vir kapelane in eMalahleni besef het.
“Die besluit om by SAFReC aan te sluit was totaal ’n gebedsaak en die deure is net vir ons geopen.” Rhyno en Almerie het gedurende die week van 8 Mei vir hul formele opleiding gegaan en op 1 Junie is hulle amptelik aangestel as kapelane.
Charles het bygevoeg: “Die fokus bly op ons gemeenskap en op nooddienste.”
Almerie het ook gesê: “Dit is in ons harte om die mense te dien.”
Rhyno se beroep is ’n gekwalifiseerde eerste ‘responder’ en hy bied bystand op reddingstonele.
Almerie is ’n haarkapster, maar die passie vir berading is diep ingewortel.
Sy het bygelas: “Op enige toneel is daar ’n rustige en kalm persoon nodig tydens die warboel. Ons is die gemeenskap se veiligheidskombers en ons wil almal bedien, so ver moontlik. Ons is die rustigheid in die chaos.”
’n Ander toevoeging tot ons stad se kapelane is past. Andries van Schalkwyk.
Hy is ’n pastoor by Lewende Woord en het reeds talle projekte waarmee hul besig is in die kerk.
“Charles is betrokke by ons manne-bediening. Hy het my genader en ek het vir hom gesê ek weet nie veel van kapelane nie. Hy het my verduidelik waaroor dit gaan en ek het besef dat dit ons toegang gee tot plekke waar ons nooit toegang gehad het nie. Dit gee vir ons ’n nuwe verantwoordelikheid. Ons kan nie vir altyd wag vir iemand om iets te doen nie. Dit is waar ek my hand uitstrek en help,” het hy gesê.
Past. Andries het bygevoeg dat dit hom die geleentheid gee om die gemeenskap te dien. Hy het gesê: “Daar is baie mense wat praat, maar te min sien ons iets gebeur.”
Hy het bygevoeg dat hy meer betrokke is by die geestelike en emosionele trauma, daar waar die mense uitmekaarval.
Charles kan gekontak word by 073 854 9791 indien daar ’n situasie is waar ’n kapelaan benodig word. Hy sal die relevante mense na die toneel ontbied.
