Ouers het ’n sê oor kinders se terugkeer skool toe
Dus sal die kind eers weer in die volgende skooljaar geregistreer word as leerder van die skool

Met die positiewe gevalle van Covid-19 wat toeneem van beide onderwysers en leerders in skole wat weer geopen is, bly die reg in die ouers se hande as dit kom by die terugkeer van kinders na skole weer geopen word.
Na die Departement van Basiese Onderwys nuwe riglyne gepubliseer het wat fokus op die heropening van skole onder die huidige inperking maatreëls van die Suid-Afrikaanse regering, het klagtes van ’n ouer onder WITBANK NUUS se aandag gekom, nadat sy geweier het om haar kind dadelik terug te stuur skool toe.
Die skool het glo vir haar gesê dat as die kind vir ’n sekere aantal dae afwesig is van skool sal die leerder geskraap word van die skoolregister.
Dus sal die kind eers weer in die volgende skooljaar geregistreer word as leerder van die skool.
WITBANK NUUS het twee mediaverklarings van twee verskillende laerskole in eMalahleni ontvang wat bevestig het dat die skole weens Covid-19 gevalle gesluit is vir ’n week.
Volgens ’n persverklaring op 5 Julie van die Minister van Basiese Onderwys, Angie Motshekga het sy uitdruklik verduidelik dat kinders nie van die skoolregister afgehaal kan word in die geval van die pandemie nie.
Alhoewel die skoolwet anders sê is dié ’n uitsondering.
Sy het ook in hierdie persverklaring meer uitgebrei oor tuisonderrig en hoe om te werke te gaan om te registreer vir tuisonderrig en die kurrikulum wat gepaard gaan met dit.
Aan die einde van die dag is dit elke ouer se keuse of hul, hul kinders wil terugstuur skool toe of nie, dit sonder dat die kind sy of haar plek in die skool verbeur.
“Op die stadium van die wedstryd wag ek in spanning vir die hoof van die skool asook beheerliggaam om terug te kom na my toe na ek die klagte ingedien het,” het die ma aan WITBANK NUUS vertel.
WITBANK NUUS kon nie in kontak kom of kommentaar vanaf dié sekere skool gekry het voor druktyd nie.
