Baksteen-diewe baie doenig
Grové was baie getraumatiseerd na die voorval en het gesê hulle het ook sekuriteit by hulle huis opgeskerp
Rowers wat bakstene uit grensmure haal om toegang tot erwe te kry is nie ’n nuwe ding in Uitbreiding 10 nie.
Op Vrydag 10 Julie is die herderspaar, pastoor Fanie en me. Loraine Cronje in hul huis aangeval.
Die rowers het toegang verkry tot hulle erf deur hulle baksteenmuur steen vir steen af te breek.
Skaars ’n maand tevore het dieselfde met die Grové-gesin gebeur wat net ’n klein entjie van die Cronje’s af bly.
Me. Alma Grové het vertel dat sy net voor 05:00 op 10 Junie in die badkamer was.
Haar man, mnr. Hans Grové was reeds werk toe.
“Ek het eers gedink dit is ons seun Jaco wat ingekom het. Toe ek uit die badkamer kom het ’n vreemde man voor my gestaan,” het Grové vertel.
Sy het gesê sy het hard begin skree en die man het omgedraai en uitgehardloop.
Tydens die inbraak is haar handsak onder andere gesteel en ook die radio uit Jaco se voertuig uit.
Later die oggend het hulle agtergekom dat die diewe hulle baksteenmuur afgebreek het.
Grové was baie getraumatiseerd na die voorval en het gesê hulle het ook sekuriteit by hulle huis opgeskerp.
Sy het ook gesê dat sy haar identiteitsdokumente, bankkaarte en lisensie moes vervang en dit het tydens die nasionale inperking baie langer geneem.
Brig. Leonard Hlathi, provinsiale polisiewoordvoerder het nie gereageer op navrae of die moontlikheid bestaan dat dit dieselfde bende is wat in die area doenig is nie.
