Heinrichstraat in Ga-Nala se bruggie is weer veilig
Raadslid Dirk Grobler van die Demokratiese Alliansie het aanhou 'baklei' tot die bruggie reggemaak is.
Inwoners van Silwerfleur Aftreeoord in Ga-Nala is baie bly omdat die bruggie tussen die aftreeoord en die winkelsentrum weer rybaar is.
Raadslid Dirk Grobler van die Demokratiese Alliansie het weereens bewys aanhouer wen, want hy het die bruggie-probleem nie daar gelaat nie, maar aanhou baklei tot die bruggie reggemaak is.
Dié bruggie is in 2020 met sand geblok nadat inwoners gekla het dat ’n gedeelte van die bruggie ’n bietjie gesak het.
Die bejaardes moes toe van die R547 gebruik maak om by die winkelsentrum uit te kom. Dié pad is baie besig met veral swaarvoertuie. Daar was gevrees dat die verkeer op dié pad die bejaardes se lewens in gevaar stel.
Die munisipaliteit het ’n kontrakteur aangestel en Grobler het die gebou en gewerskaf met valkoë dopgehou.
“Motoriste moet net daarop let dat die bruggie ’n spoedbult bygekry het,” het Grobler gesê.
Die bruggie spog ook nou met stap-vriendelike sykante wat dit vir voetgangers baie veiliger maak.
Grobler bedank die rolspelers van die munisipaliteit, asook die kontrakteur wat so gewikkel het om die bruggie reg te maak.
Deel jou nuuswenke met ons via:
Telephone: 013 656 2490
WhatsApp: 060 866 8682
Email: wtbnews@mweb.co.za
Of volg ons op WITBANK NUUS se sosiale platforms:
