Nie al die kakiebosse verdien jou lewensvreugde nie

Gee net genoeg van jouself.

Die verhaal word vertel van die waterdraer wat twee potte gedra het. Een van die potte was gekraak en as hulle by hulle bestemming aangekom het, het die gekraakte pot moedeloos vir die ander een gesê: “Jy is darem baie gelukkig dat jy nie halfvol water is as ons hier aankom nie, die meeste van my water loop deur die krake wat ek het.

” Die heel pot wys toe so in die rigting waarvandaan hulle gekom het en sê: “Kyk bietjie terug op jou pad, sien hoe groen is die paadjie; waar ek geloop het, is daar niks.”

Party potte se krake is net minder, ander weer het soveel krake; die water is skaars in, dan is dit weer uit.

Ons almal het daardie vriende wat soveel gee dat wanneer dit by hulself kom, is daar nie genoeg om hul eie koppie vol te maak nie.

Die verhaal van die twee potte is van toepassing op van my hartsvriendinne wat in my hart ingeweef is met kosbare goue draadjies.

Baie van hulle gee soveel van hulself en waar hulle stap, groei die sonneblomme trots met heldergeel glimlaggies en knipoog vir die son wanneer hulle dié volg tot dit die dag groet en die lug kwistig  rooi verf voordat sy haar strale bêre.

Maar aan die einde van die dag is hulle so uitgeput om vir ander siele water te gee, dat hulle self leeg is.

Die Engelsman se ‘eish’ in sy glas klingel soos oudergewoonte asof dit met my saamstem.

En dan kom die wysheid deur.

Die Engelsman reken dat die potte met die baie gate moet skanse om hulself bou deur pottebakkersklei in van die gate te stop.

So het jy beheer van hoeveel jy van jouself gee en dat jy net die sonneblomme in jou lewe voed en nie al die kakiebosse ook nie.

My raad aan jou liefste hartsvriendin is… doen bietjie selfondersoek en besluit watter van die gaatjies gaan jy met pottebakkersklei vul en watter gaatjies kan jy as ’n sproeier gebruik om dié langs jou lewenspad te verkwik met jou borrelende self.

Onthou jy kan nie ’n ander se koppie volmaak as joune leeg is nie!

LEES MEER:

. My ‘window-shopping’ en joune verskil soos dag en nag

My hart bloei

Kloue af, dis my neseiertjie


Deel jou nuusbrokkies met ons – Telefoon: 013 656 2490, WhatsApp: 060 866 8682 of Epos: info@witbanknews.co.za

Volg ons ook op dié sosiale media platforms:  InstagramTwitter Witbank News App Facebook page Witbank News Breaking

Exit mobile version