Local newsNews

Nare ondervinding in Ogies laat wrang smaak in hengelaars se mond

Kuiergaste van Boksburg waarsku dat kriminele in Ogies doenig is.

’n Egpaar van Boksburg het amper hul kar met sleepwa gerol nadat daar vermoedelik met hulle kar se band gelol is.

Mnr. Herman Lewis het gesê was dit nie dat sy vrou, me. Zelma Lewis, koelkop gebly het nie, sou sy sekerlik die kar gerol het.

Hulle het Dinsdag, 26 September by ’n slaghuis in Ogies gestop voor hul wegbreek na ’n populêre nabygeleë visvangplek.

“Ek is ’n kwadrupleeg en Zelma het by die slaghuis gestop vir laaste aankope toe ’n knaap in ’n groen oorpak bukkend by die passasierskant se agterwiel staan. Ek kon nie in my spieëltjie sien wat hy doen nie, maar toe hy orent kom, roep hy my en sê ek het ‘n ‘slow puncture’ en moet kom luister by die wiel. Zelma het gaan kyk en gesê dat die band wel lek, want sy hoor lug ontsnap,” het Herman vertel.

Herman het gesê dat die man en sy maat hulle aangesê het om stadig tot by ’n nabygeleë garage te ry sodat hulle die wiel kan regmaak.

“Terwyl hulle besig is, roep hy Zelma weer en sê hulle het nog ’n ‘slow puncture’ ontdek. Ek is briesend en sê maak reg, terwyl my vrou by hulle staan en hulle dophou. R100 later is ons daar weg om vis te gaan vang.”

Die vis het maar stadig gebyt, maar Zelma het dit toe wel reggekry om ’n 4kg karp uit te trek.

Na die vier dae se ruskansie is die egpaar terug Boksburg toe. Sowat 100km van Ogies af het die band wat kwansuis deur die twee manne reggemaak is, gebars.

“Ons het oor die pad ‘gezigzak’. Gelukkig kan Zelma goed bestuur en het sy op die skouer van die pad gestop. Ons assuransie het ons dadelik padbystand verleen en het die wiel geruil. Maar, dit kos my ’n splinternuwe wiel opsit.”

Herman het gesê die man en sy mater is baie slinks en kon met die visstokke op die kar se dak en die volgelaaide sleepwa dadelik agterkom dat hulle nie bekend is met die Ogies-area nie.

Hy waarsku mense om baie versigtig te wees en nie te val vir die slenter nie.

Die eienaar van die slaghuis het al op ’n vorige geleentheid genoem dat nayope-seuns, soos hulle bekend staan, ’n groot probleem in Ogies is.

Die slaghuis se eienaar se spaarwiel is al op meer as een geleentheid gesteel en die nayope-seuns spring glo sommer op oop bakkies en sleepwaens en steel goedere terwyl die voertuie steeds beweeg.

“Die nayope’s is besig om besighede skade aan te doen, want besoekers wil nie meer in Ogies stop vir hulle laaste inkopies voor hulle gaan visvang nie,” het die slaghuis se eienaar gesê.

Ogies polisiewoordvoerder, konstabel Bhekuyise Ziqubu het gesê dat dit die eerste woord was wat hy van dié slenter hoor.

“Ek gaan opvolg en by die garage ook met die werkers en eienaar gesels om dié mannetjies weg te jaag. Vir motoriste noem ek dat hulle nie enige persoon moet toelaat om aan hulle karre te werk nie, maar eerder na professionele mense toe gaan om hulle bande te laat regmaak,” het Ziqubu gesê.

Het jy ’n storie om te vertel?

Stuur vir ons ’n epos na info@witbanknews.co.za of bel ons by 013 656 2490

• Vir meer brekende- en gemeenskapsnuus, besoek gerus ons webtuiste.

• Jy kan ons ook volg op sosiale media platforms: Facebook,  Twitter of Instagram

Kliek op die woorde wat in kleur uitgelig is om meer te lees oor verwante temas.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Zita Goldswain

News Editor at the Witbank News Caxton stable. Witbank News has been my ‘home’ for the past 24 years. Journalism is the ability to meet the challenge of filling the space true words said by Rebecca West. I meet challenges, get the better of them and fill space with true words.
Back to top button