Opinion

Wyse woorde

By hoeveel mense se wange het ’n enkele traan afgeloop?

Bruin gebrande lywe, foto’s op sosiale media en ’n leë beursie is leidrade wat uitskree dat die afgelope vakansie heerlik was.

Kersfees en nuwe jaar vieringe is familietyd.

Ek en die Engelsman het die voorreg gehad om dié feestyd saam met ons familie deur te bring.

As ek op my tone staan en strek raak ek amper aan my middeljare, maar die opgewondenheid oor Kersfees, my pa wat op Oukersaand geskenke uitdeel en die hele familie bymekaar het nie verouder saam met my nie.

Oujaarsaand het ek en die Engelsman gesels oor die jaar wat verby is en die feit dat familie vir ons verskriklik belangrik is.

Die vuurwerke in die verte het kort-kort ons gesprek onderbreek.

Die klank het was bekend, ons hoor dit gereeld oor die televisie wanneer daar berig word oor oorloë.

Dit het my laat besef hoe bevoorreg ons is.

In Sirië wat al sewe jaar in ’n oorlog vasgevang is, is die geluid wat vir ons soos vuurwerke in die verte klink, ’n realiteit.

Dié oorlog het ’n sosiale invloed op die jeug wat as ’n ‘verlore generasie’ beskryf word.

Die jeug van Sirië is van die heel belangrikste mylpale in hul lewens ontneem.

Hulle sosiale vaardighede en selfvertroue het nooit ontwikkel nie.

In plaas daarvan dat hulle leer lees en skryf, leer hulle hoe om wapens te hanteer.

Hulle is blootgestel aan die uiterste vorme van geweld en trauma.

Die letsels van hierdie oorlog weerkaats in hul leë oë.

Maar daar is nie net oorlog in Sirië nie.

Hoeveel families was dié Kerstyd uitmekaar geskeur as gevolg van nuttelose familie rusies en vetes.

Hoeveel leë stoele was by die Kerstafel gewees?

By hoeveel mense se wange het ’n enkele traan afgeloop?

Vir my en die Engelsman is familie die belangrikste fondasie.

Ons laat nie ’n oomblik verbygaan sonder om vir mekaar te sê hoe lief ons mekaar het nie.

Terwyl die vuurwerke stadigaan afneem neem die Engelsman nog een slukkie van sy knertsie met ’n stukkie ‘eish’ en daarmee gee hy ook ’n stukkie raad,

“Gee in die gees van die feestyd eerder iets meer kosbaar as ’n toe gedraaide geskenk, vergewe diegene wat jy voel jou leed aangedoen het. Jammer kos niks, ek is lief vir jou kos nog minder.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button