BlogsOpinion

Adams, julle het verdwaal

Mans is beslis al die pad van Mars af en ons Evas het maar padlangs van Venus af gekom.

Die afgelope drie weke se vakansie het weereens bewys die manlike geslag is net té gemaklik.

Ek het dié feit weereens agtergekom dat die Adam-geslag en Eva-geslag beslis nie in een wentelbaan kan ko-ordineer nie. En die kras stelling baseer ek op die twee ure net voor ons êrens heen padvat.

Reeds die vorige aand het ek ‘oortyd’ begin insit. Ons geveerde kind se hok is skoongemaak, die plante is nat, wasgoed is op datum gebring, die kos en koeldrank is gepak. Nou net van opstaan, aantrek en ry. Vir ons geërde ‘Mars-manne’ ja.
Die wekker het nog nie eers afgegaan nie of ek is al op terwyl die Engelsman nog lê en balke saag, en nie watse balke nie dit klink of hy by Sappi werk.

Ek het reeds die vorige aand se skottelgoedjies gou opgewas en terwyl ek al die kragproppe afsit, wat moet af, die vensters nagaan en seker maak die honde het genoeg kos en water hoor ek iemand steun, die Engelsman het intussen omgedraai op die ander sy en nou word die balke klaar getimmer.

Ek gaan gou die tasse na en maak seker die eerstehulptassie is ingepak. Die spaarwiel is ‘gecheck’ en ek pak solank die tasse in.
Tussen my gewerskaf het die Engelsman ontwaak en spring hy gou in ’n stort.

Ek trek gou al die gordyne toe en maak seker die stoof is af.

Vars na sy heerlike en goeie nagrus en stort vra die Engelsman ’n koppie koffie. Terwyl ek dit skink onthou ek die GPS is nog nie ingepak nie. Ek maak die stort se krane oop, spring in en blitsvinnig weer uit en trek aan. GPS in die hand maak ek vir oulaas doodseker als is reg.

Seg die Engelsman so brom-brom ek moet myself haas want ons is 10 minute laat. Uitasem klouter ek in en in my kop gaan ek alles weer nog net vir die wis en onwis, deur.

Moeg na die oggend se werskaf moes ek hard op my tande kners om die Engelsman nie met gekruide taal te bestook nie, hy vra so ewe bedagsaam of als in die haak is, want ek lyk bietjie afgerem.

Stank vir dank sê ek vir julle. Op daardie oomblik was ek soooo lus om hom met sy GPS en tassie Mars toe te stuur, dit is mos vanwaar die Adam-geslag vandaan kom, of hoe?

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button