
“Useless Bafana are a bunch of losers,” het die minister sy woede ontbloot.
Een van dié wat lekker oor die minister se uitbarsting gelag het, was die Engelsman.
Op ’n meer ernstiger noot het hy gesê dis tyd dat iemand na vore kom en hulle sê, sê.
Seg die Engelsman dis tyd dat inwoners ophou mooi praatjies maak en ’n ding sê soos hy is.
En net daar trek hy los met voorbeelde, “Wie het die grootste gat, die burgemeester of OR Tambo?” verwys hy na die slaggate in die paaie.
“Wie stink soos ‘n poedel wat in een van die slaggate gespeel het na ’n Hoëveldse storm en net so droog geword het, want daar is nie water in die krane nie?”
Nee, seg hy dis tyd om die bul by die horings te pak.
“Emmawillielênie is vuil. Hou op om te sê die grassies op die sypaadjies is te lank. Die stad is vuil en so gaan dit bly tot ’n liggie by iemand opkom en die idee gebore word om die jongmanne wat so op die straathoeke lê, ’n dagloon te betaal om die gemors op te tel en gras te sny.
Skielik is die gras rondom die watersuiweringsaanleg verlede week gesny, want iemand daarbo is bang haar edele, me. Edna Molewa, minister van waterwese word deur ’n slang gepik op haar wandeltoggie na die aanleg toe. Ja, sy was glo van plan om te kom kuier. Maar ek is seker sy het besluit om nie te kom inloer nie, want iemand het seker in haar oor gefluister dat daar spesiaal vir haar watertjies op ‘eish’ gehou word sou sy dors wees na haar wandelinkie. En die watertjies is ek ook seker kom uit ons eie krane.
Wat moet ons maak om reaksie uit ons mislikepaliteit te ontlok om die stad bietjie aan die kant te maak. Moet ons die minister van vervoer me. Dikeledi Mahlangu ook oornooi vir ’n glasie yskoue water op ‘eish’. Miskien word die slaggaatjies gevul alvorens sy haar wandelinkie deur die stowwerige strate kom neem.
Miskien sal dit help as ons mnr. Brian Dames, die hoofuitvoerende beampte van Eskom nooi. Die vonke gaan spat as sy watertjies warm is en daar nie ‘eish’ is nie omdat ons het nie elektrisiteit het om die yskas aan die gang te hou nie.
Nee, seg die Engelsman, nooi net vir Fikile, hy sal die mislikepaliteit gou uitsorteer want die man het darem nou vir jou ‘Bells’.