
Die Kansa Shavathon is kant en klaar en honderde mense het die groot stap geneem en poenskop geskeer. Hulle het sekerlik nie gehoor van die kouefront wat alweer daar vannie Kaap af kom kuier het nie.
Kyk, dit sit darem nou nie in enige lid van die vroulike geslag se ‘romp’ om die groot stap te neem nie.
Selfs ekke het ampertjies geswig en gesê sny af, maar op die ou-einde het die ydelheid gewen en is ek vinnig deur die Kansa-tannies se hande en het heeldag gespog met blou hare.
Ek kan myself al voorstel hoe die Glam Guru op sy tande kners elke keer as ’n Eva haar lokke opoffer.
Sommer so met die gedagte in die kop wonder ek hoe die Glam Guru met ’n kaalkop sal lyk, en of hy dit sy eie kan maak soos Nataniël. Nataniël op sy manier sal reguit sê: ‘Fokus mense, fokus. My kaalkop is so uit soos politiek, die rentekoers en babapraatjies om ‘n braaivleisvuur’.
Terug na die Kansa Shavathon. Ek het letterlik met ’n knop in my keel toegekyk hoe ’n ma-en-dogter spannetjie, pa-en-seun, vriende en kollegas mekaar uitgedaag het om die kleurvolle stap vir Kansa te neem.
Uit al die kleurvolle, deurmekaar opwinding is daar weer iets gebore – Hoop.
Ek salueer vandag een en elk van julle wat verlede week en ook die naweek jul bydrae aan Kansa gemaak het. Die Shavathon is ’n weerspieëling van die ‘stukkende’ stad se mense. Hulle het harte van goud en dit is juis dit wat ’n stad maak of breek
Soos altyd moet die Engelsman ’n laaste woordjie inkry so neffens hy ’n slukkie whiskey met ‘eish’ neem, sug hy so ewe sedig en seg, sy hare word nou ’n bietjie yl en hy moet mooi kyk na sy haredos dis waarom hy vinnig ingeglip het en ’n paar randjies vir Kansa gaan gee en nee, hy wil nie saam met Nataniël om ’n braaivleisvuur kuier met ‘groot-gat-geselsies-in-Emmawillielênie’ nie, nee dankie!
