BlogsEditor's noteOpinion

Waar is die somer heen?

Dit voel soos gister toe ons Lentedag gevier het. Ja, nee gister is al ses maande terug.

Met al die reën wat vroeër geval het, het ek iewers die hart van die somer verloor. Ek wou nog n bietjie van ’n ‘tan’ kry voor ons die winter hartlik verwelkom, maar dis verby soos gister se Lentedag.

Die herfsblare ontvoer my na my kinderdae in die lieflike ou dorpie Kriel. Daar is net nie ’n leliker dorp in die winter soos die steenkool-dorp nie. Alles is vaal en ek bedoel dit as ek sê dis vaal. Daar is nie eers ’n greintjie kleur tussen die wintergrys nie.

Die herfsblare het eers vir my betekenis gekry deur my ma se oë. Dit was blare net doodgewone blare, tot een laat herfsmiddag.
My moeks het in die tuin gewoel, besig om die grond voor te berei vir die winter, Dit was so skuins voor skemer toe sy my vertel waar die blare aan hul uitsonderlike kleure kom.

As jy doodstil sit sal jy moontlik ’n blaartjie sien beweeg, probeer om nie jou oë te knip nie, want selfs dit sal die dwergies wegjaag,” het sy dromerig ’n wêreld van dwergies en feetjies opgetower.

Ek kon letterlik sien hoe ’n dwergie met ’n emmertjie verf in die een hand en kwassie in die ander hand van blaar tot blaar dartel en elkeen sy eie kleure verf, roesbruin, diep oranje en hier en daar ’n spatsel goudgeel. Daar is ’n bietjie pienk en wit as jy mooi kyk.

Hy het nie baie van daardie kleur verf oor nie, want hy het hom misgis met die plate Kosmosse wat so padlangs opgeskiet het om te vergoed vir die winter se vaalgrys kleur. Hy HET ekstra Kosmosse gaan verf.

Ek het hard probeer om nie te lag toe die dwergie se hoed in een van takke vassit en sy silwer krulle weerbarstig oor sy gesiggie tuimel nie. Hy het amper sy balans verloor en het woes gegryp na die naaste tak, terwyl hy die kwassie tussen sy tandjies vasgeklem en die emmertjie in die ander hand probeer balanseer.

Skielik is ek terug in die werklikheid toe die Engelsman begin lag en aanbied om my glasie sjerrie te gaan vul.
Seg hy so droog: If you can hum it, I will play it’ en wil hy weet of daar nie dalk dwergies is wat slaggate regmaak nie. Hy is seker inwoners van eMawillielênie sal hulle boeglam skrik as daar skielik oral dwergies rondstaan met teer in die hand besig om slaggate te vul.

Skielik trek ’n beweging agter een van die bome my aandag. Daar staan die meneertjie met sy silwer weerbarstige krulle, hy knipoog en glimlag breed en in sy hand ’n verfkwas rooibruin gevlek van die herfskleure.

Wie weet, miskien moreoggend as jy opstaan  is die slaggat in jou straat gevul.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button