Dubbel dosis Dr. Fix it vir Emmawillielênie
Die griep het baie inwoners in sy tentakels vasgegryp en daar is geen kans vir ontsnap nie.

Ek is een van die slagoffers en nie eers die gespartel om uit te kom uit die web van rooi oë, loopneus en seerkeel, help nie.
Ek het in die bed gelê en myself lekker jammer gekry en iewers tussen die kouekoors aan die slaap geraak.
Dis toe ek Emmawillilênie in my drome ontmoet. Die stad het die hoofrol in een van my deurmekaarste drome ooit gespeel.
My droom het my na ’n dokter se spreekkamer ‘ontvoer’.
Skielik het rooi sirenes die stiltes skril ontbreek met die geraas en geharwar stop daar ’n ambulans met sy neus amper teen die spreekkamer se deur.
Die deure agter word oopgegooi en paramedici stoot die stad, nou in mensvorm die wagkamer binne. Daar word nie baie vrae gevra nie en die stadjie verdwyn agter twee blink-silwer swaaideure.
My nuuskierigheid het die oorhand gekry en so tussen al die geskarrel skuif ek ongesiens deur die swaaideure en staan verbaas na die toneel wat voor my afspeel.
Dis toe die dokter omdraai dat ek besef ek ken die man, dis mos ’Mr Fix-it’ die stad se administrateur.
Behendig gly sy stetoskoop oor Emmawillielênie se hartjie wat al hoe stadiger klop.
“Die hart se dienslewering is nie na wense nie,” brom hy en kyk kwaai na die ander dokters wat toekyk.
“Het julle nie die gevaartekens gesien nie? Die hart het slaggate soos groot soos dongas in, hier loop geen lewensbloed of in leketaal, water deur die hart se kraantjies nie. Die elektriese-sisteme is besig om een vir een in mekaar te tuimel,” sê hy weer en trek ’n dik naald nader. Die naald is so dik, selfs ’n Brahmaan-bul sal terugtree as jy die naald vir hom wys.
Stilte het soos ’n grys kombers oor die bed in die half verligte kamer gehang.
Die naald word in Emmawillielênie se maer armpie gedruk en dr. Fix-it se oog staar strak na die monitor wat wys daar is nog ’n sprankie hoop. Die getjir-tjir van die monitor is die enigste hoorbare geluid.
Daar is ’n slaak van verligting toe die dr. Fix-it sy handskoene uittrek en moeg oor sy voorkop vee. Die pasiënt is deurgehaal. Die dokter laat die pasiënt met streng instruksies wat noukeurig deur die verpleegster gevolg moet word.
Rooi letters staar grootoog in die dokter se geskribbel, die oorsaak van Emmawillielênie se ineenstorting is ’n tekort aan bestuur, kort en kragtig sonder enige bybedoelings.
En wat het die dokter voorgeskryf? ’n Bietjie aandag, baie liefde en die regte mense aan die stuur om toe te sien die stadjie neem elke dag sy medisyntjies.
Die Engelsman maak my wakker en hou die sopie gemmerbrandwyn, griep pilletjies en tee byderhand. Hy weier volstrek om sy whiskey met ‘eish’ met my te deel. Enige iets net nie daardie naald wat dr. Fix-it vasgehou het nie.
