BlogsOpinion

Ma’s doen dit vir hul kinders

Voortslepende, gewelddadige protesoptogte in die land is elke dag in die nuus.

So het Emmawillielênie ook haar kwota gekry en een hiervan was die van ma’s van die Klarinet omgewing wat betoog het omdat vervoer vir hul kinders na skole gestop is. Dit net omdat die busdiens nie deur die regering betaal was vir dienste gelewer nie.

Salomo het ’n vrou so beskryf: ‘Haar waarde is vêr bo korale’.
Salomo saam met jou stem ek.

Een van die ma’s wat verlede week betoog het, het tandloos geglimlag en ek kon sien wat sy doen, doen sy vir haar kinders.
Een, een gaan hulle stemme nie ’n verskil maak nie. Maar toe hulle luidkeels saam begin sing en ritmies hul voete stamp dat die stofwolke so staan, was hulle hoorbaar.

Hierdie was ma’s wat droom vir ’n beter toekoms vir hul kinders. Ma’s wat nie wil hê hul dogters moet
vroegoggend kilometers ver loop om water in twee liter Coke bottels tap en aan te dra huis toe nie. Ma’s wat nie wil hê hul seuns moet Saterdae oggende op die hoek van besige strate sit, vinger in die lug wagtend vir ’n ‘piece-job’ nie.

Die ma’s se lewens motto is eenvoudig:
leer om die onmoontlike te aanvaar en hoe om sonder die noodsaaklike klaar te kom.

Ek onthou iemand het iewers op my lewenspad eendag gesê: ‘‘n Vrouehand is ‘n ysterhand, geklee in ‘n fluweelsagte handskoen’
Kyk maar net na ons voorsate, geskiedenis vertel ons, ons groot-oumagrootjies was bereid om kaalvoet oor die Drakensberg te loop om ’n verskil te maak.

Daar was ook dan die groepie vroue wat met verslete skoene aan, bibberend van die koue, maar vol liefde vir hul kinders reg voor Klarinet ‘getoi-toi’ het.

Op papier het die kinders van Suid-Afrika mos ’n blink toekoms, hier word Kinderregte tot die uiterste beoefen.
Maar in realiteit, staan daar kinders tevergeefs vroegoggend wagtend op ’n bus om hulle skool toe te vat. In realiteit is onderwysvakbonde net so skuldig met hul protesoptogte en stakings wat kinders by leë skole laat omdraai. Die meerderheid van ons kinders voltooi nie eens hulle skoolloopbaan nie.

‘Ja uhmm’, seg die Engelsman, terwyl die ’eish’ in sy glasie  klingel. Hy salueer ons ma’s, ek dink hy weet as hy vandag nie saamstem nie sal ek begin met my protesoptog, al word daar dan nie geboue en strate na my vernoem nie, weet ek die pad na die Engelsman se hart is ’n ‘highway’ deur sy maag, en dit weet hy ook.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button