“Sirkusse is nie meer dieselfde nie.”
‘Ja’ sug die Engelsman daar waar hy op sy geliefkoosde stoel voor ‘n dooie TV skerm met sy glasie whiskey en ‘eish’ sit, “Sirkusse is nie meer dieselfde nie.”

Omdat ek nie so mooi die kloutjie by die oor kan kry nie, vra ek hom wat hy presies bedoel. Sirkusse? ‘n Sirkus is mos deesdae ‘n rare gedoente. En as hulle hier in eMawillielênie kom tent opslaan dan sak diereliefhebbers op hulle toe en toi-toi voor hul deure.
Ek weet nie so mooi of hy al ‘n sirkusvertoning gesien het nie. Ek weet vir ‘n feit dat in al die jare wat ons getroud is, hy nog nooit so ‘n vertoning bygewoon het nie. Dalk het hy dit al op TV gesien en daarom vra ek hom om meer duidelik te wees.
‘n Sirkus verduidelik hy ernstig, is ‘n gedoente wat aan ‘n Boswell of ‘n Wilkie behoort het. Dit het bestaan uit perde, leeus, olifante, kamele, ape, kunstenaars, ensovoorts. En dan ook ‘clowns’.
Die ‘eish’ doen ’n tango in sy glas en verbreek die rustige stilte as hy verder praat, “Die sirkusse van vandag bestaan net uit ‘clowns’ en towenaars, geen diere of kunstenaars nie.”
Vat nou, seg hy, die Eksdom-sirkus. Hulle betaal aan hulle ‘clowns’
miljoene rande aan salarisse omdat hulle die elektrisiteit beplan en bestuur, maar weens hulle beplanning en bestuur kan hy nou nie eers rugby kyk nie. Vir die soort van beplanning en bestuur word hulle al daardie geld betaal.
“Ek dink as hulle donkies en ape in hulle bestuur gehad het, sou ek vandag kon kyk hoe die Vrystaat vir Noord-Transvaal opneuk. Met donkies en ape in plaas van ‘clowns’ op ‘Eksdom’ se bestuur, sou ons land nou nie so die donker dieptes in bestuur gewees het nie,” borduur hy voort.
Ek wil opstaan om vir my nog ‘n ietsie te skink, maar die Engselsman is nou eers op dreef want hy wil my nog van die ander sirkus ook vertel.
Dit is nou die goverment-sirkus. Dit behoort glo aan ene Zuma. Hy is glo die groot kokkedoor en ‘n ‘clown’ op sy eie. Waar ander sirkusse spog, met, sê nou maar ‘n bok met twee koppe of ‘n hond met vyf bene is hierdie sirkus glo uniek omdat sy eienaar vier vrouens en ‘n horde kinders het.
Omdat die grootste huis beskikbaar nie genoegsame plek vir sy familie het nie, het hy sommer vir hulle ‘n dorp gebou. ‘Nskanda’. So baie maak hierdie sirkus van ene Zuma.
Maar om terug te kom na die government-sirkus toe, seg die Engelsman. Die vertoning word in ‘n groot saal gehou en net waar jy kyk is daar ‘n klomp ‘clowns’ wat dinge doen en sê wat jou sal laat krul van die lag. Baie van hierdie ‘clowns’ is ook towenaars. Hulle laat sommer groot bedrae geld voor jou oë verdwyn. Ja, sluit die Engelsman af, “Die Eksdom- en die government-sirkusse het nie diere nodig nie. Die klomp ‘clowns’ en towerkunstenaars sorg vir genoeg vermaak.
