’n oplossing vir Eskom se probleme
Helaas het die Engelsman ’n oplossing vir Eskom se probleme gekry.

Na sy eerste whiskeytjie met ‘eish’ is die Engelsman met so ’n spoed uit die wegspringblokke om Eskom te ‘red’ dat hy stokflou was toe hy uiteindelik klaar verduidelik het.
Ons liewe mislikepaliteit skuld Eskom ’n paar miljoen, nee eintlik ’n hele paar miljoen. Eskom mag nie eers naby die ‘switch’ kom om elektrisiteit na Emmawillielênie af te sny nie. Die wet meen dis nie die inwoners nie, maar die mislikepaliteite wat wanbetaal en daarom mag hulle ons elektrisiteit nie afsny om die mislikepalitiet te straf nie.
Dis juis toe dat die Engelsman omtrent woord-diaree kry.
Hy dring daarop aan dat die middelman uitgesny moet word. Sodoende kan ons as verbruikers direk van Eskom af ons kosbare elektrisiteit kry. Hulle kry ten minste ’n inkomste, want anders as mislikepaliteite, betaal Jan Publiek vir dienste gelewer. Met die inkomste kan nuwe kragstasies gebou word en ‘Eks-dom’ ag ekskuus Eskom hoef nie beurtkrag in te stel nie. Die mislikepaliteite kry goeie oudits, want hulle hoef Eskom nou nie meer miljarde te skuld nie.
Nou is die vraag hoe beland enige entiteit, of dit nou die kragreus of die mislikepaliteit is, in die sombere situasie.
Hier is ’n paar stappe, soos die Engelsman, uiteengesit om te verseker dat entiteite gou hulle agterkante sien.
Stel ’n onbevoegde persoon in ’n sleutelposisie aan. Laat hom tog toe om belangrike besluite te neem al is hy nie kundig genoeg nie. Gee vir hom ’n hengse salaris en nog ’n groter bonus. Nou dink hy net aan sy ‘beautiful’ Mercedes en Nike tekkies, nie dié wat jy op die vlooimark koop nie, daai ‘peperduures’.
Al wat hy nou en dan moet sê is ‘For us this is a challenge. The matter is pending due to further investigation’.
Dank hom af na so ’n jaar of wat, maar moenie vergeet om vir hom die ‘golden handshake’ te gee nie.
Siedaar, jy het ’n ‘crisis in the making’.
Die resep is ‘fool-proof’.
As daar gekyk word na die situasie in Emmawillielênie, sien jy dieselfde patroon dadelik raak.
Skielik, na die ouditeur se negatiewe verslag, het die hoof finansiële offisier sommer op vroeë pensioen gegaan. Daar is ’n slang in die gras.
As die mislikepaliteit antwoord en sê ‘For us this is a challenge. The matter is pending due to further investigation’ vergryp ek myself wraggies aan die Engelsman se whiskey, met of sonder ‘eish’.
Dis net toe dat die Engelsman se selfoon langs hom biep en hy baklei oor die afkortings wat die kuikens gebruik in hul teksboodskappe.
Dis nie ’n slegte idee nie. Wanneer die selfoon se battery die gees gee, en daar is geen elektrisiteit om dit te herlaai nie is dit dalk ’n goeie idee om afkortings in teksboodskappe te gebruik.
Sou julle die volgende ontvang moenie skrik nie, dis nie een of ander hoogsgeheime kode of hiërogliewe nie.
‘KIA’ – krag is af, HJE – het julle ‘eish’ voorraad vir die Engelsman se whiskey (hy ref in die rooi omdat die krag af is), KJKOKS – kook jy kan ons kom saameet en KNSN – kan niks sien (of partykeer hoor) nie.
Volgens die Engelsman werk beurtkrag so: ‘As jy krag het is dit nie jou beurt nie!’
