Dis donker, dis baie donker
“Ja nee, kyk,’ sug die Engelsman en sy stem dawer deur die nagstilte. ‘Kyk wat?’ vra ek ergerlik.

Dis so donker in Emmawillielênie, ek sien nie eers die brug wat Oom Jacob gebou het nie.
Ons tweetjies sit voor in die donker sitkamer voor ’n morsdooie TV. Ek is reeds hoogs befoeterd omdat Eksdom my kokery tot ’n skielike einde gebring het. Die tjoppies was skaars in die oond, toe kadoef! af is die krag. Sonder enige waarskuwing. Dit is nou wat Eksdom ‘ beurtkrag noem’. Ek noem dit skrikwekkende onbeholpenheid.
En nou wil die Engelsman nog in raaisels ook praat en verwag hy dat ek moet ‘kyk’. In die verdomde donker kan ek skaars my wynglas in my hand sien.
‘Eksdom is darem maar rêrig dom’ en dan verduidelik hy verder. Eksdom moet hulle krag teen hulle tarief, wat laer is as die tarief waarteen die verbruiker dit nou aankoop, direk aan die verbruiker verkoop. Dit is ‘n kontant transaksie en Eksdom kry onmiddellik sy geld. So is Eksdom en die publiek albei wenners.
Maar, soos ek keer op keer teregwys, die krag word aan Emmawillielênie gegee, en soos dit hoort in die parralement word die krag teen ’n baie hoër tarief aan die verbruiker verkoop.
Nadat die Engelsman nog ‘n teug uit sy glas whiskey en ‘eish’ en water (natuurlik gekoopte water) neem het vra hy of ek die een van oom Jacob en oom Bob gehoor het. Dit klink beter. In die pikdonker sitkamer met sy morsdooie TV kan ek ‘hoor’ maar nog nie ‘sien’ nie.
Oom Jacob het glo daar by Oom Bob oorkant die rivier gaan kuier. Oom Jacob is sommer baie beïndruk met Oom Bob se plaas en vra of hy die plaas geërf het. ‘Nee’ sê Oom Bob. ‘Sien jy daardie brug daar oorkant die rivier?’ Toe Oom Jacob die mankoliekige een-baan brug sien en bevestigend antwoord gaan Oom Bob voort. ‘Wyse man wat ek is het ek staatsgeld gevat en beloof om daarmee ‘n ses-baan brug oor die rivier te bou. Toe bou ek ‘n enkelbaan brug en met die geld wat oorgebly het koop ek toe die plaas’.
Sowat ’n maand later kuier Oom Bob van oorkant die rivier by Oom Jacob op Skandelik. Oom Bob is so beïndruk met die huise, bees, bok, skaap en varkhokke, ook die swembad en konferensiesale dat hy amper op sy rug val. Amper soos daardie keer op die rooi tapyt.
‘Sê my Jacob, het jy dit geërf?’
‘Nee’ , sê Oom Jacob. ‘ Sien jy daardie brug oorkant die rivier’
Oom Bob kyk en kyk en kyk en sê ‘Nee’. Hy sien nie eers ‘n rivier nie wat nog van ‘n brug.
Sê Oom Jacob toe, ‘Ek is ‘n wyser man as jy Bob’.
Dit bring my terug na Emmawillielênie toe.
Sien jy die dongas wat gevul is? Het jou krane altyd kosbare voggies in? Is jou elektrisiteit altyd aan? Ek wonder of ons vorige hoof finansiële offisier baie slimmer as Oom Bob en Oom Jacob was?
