Vriende van Suid Afrika
Vanaand sit ons in die halfdonker sitkamer voor ’n morsdooie TV, die Engselsman met sy whiskey en water (sonder eish) en ek met my soetetjie.

Hoekom in die sitkamer en nie weer op die stoep wat ’n uitsig op die straat bied nie? Om die eenvoudige rede, dit is te blêddie koud buite. Gelukkig werk die kaggel waarin ’n houtvuur lustig brand, nie met elektrisiteit nie. Die vuur se lig is die rede waarom die sitkamer net halfdonker is.
“Daar is darem maar een goeie ding wat Zuma doen,” merk die Engelsman op terwyl hy nog ’n houtjie op die kaggelvuur gooi. Hy weier volstrek om na die man as ‘number one’ te verwys. Die titel kom die ‘speaker’ toe want sy ‘run mos die show’.
“En wat is dit?” vra ek, want ek kan aan niks goeds dink wat die Keiser van Skandale’ en sy trawante vir ons land al ooit gedoen het nie.
Ek weet dat die media die woord ‘kaders’ gebruik. Maar ‘kaders’ beteken ‘kern personeel’ en dit is darem te eufemisties gestel. Daarom noem ek hulle ‘trawante’. Trawante beteken in my woordeskat ‘kriminele medepligtiges’ en dit is mos wat die spul is.
‘Vriende maak’ seg die Engelsman.
‘Waaaat!’ Ek stik amper in my soetietjie. Sover ek weet het die Keiser behalwe vir sy trawante en miskien een van sy vroue, geen vriende nie.
Maar die Engelsman verduidelik, vat nou maar Kuba. Ons en die Kubane is nou sulke groot vriende dat hulle self van hulle dokters vir ons stuur om ons gesond te maak. Die dat ons mekaar nie verstaan nie, is mos nie ’n probleem nie. Ons kan dan nie eers uitmaak wat ons eie dokters skryf nie!
Dan is daar onse Sjinese vriende wat vir ons ’n klomp ‘mekenieks’ stuur om ons gekrokte oorlogsvoertuie te kom ‘fieks’. Een van die dae behoort ons ’n ‘errie’ te hê wat ons soldate wat in die buurlande veg te kan ondersteun.
Dan is daar nog ons vriende van Rusland. Hulle gaan vir ons kom kernkragstasies bou. Hoe gouer hoe beter, want dit is ’n feit dat ons kragstasies wat huidiglik in aanbou is teen ongeveer 2025 sal krag kan lewer. Dit is te sê as daar nie verdere stakings is nie.
‘Ja’, sug ek. Die Engelsman kan net sowel ons vriende van Mosambiek en Zimbabwe byvoeg, want hulle is besig, om deur stroping, van ons renosters ontslae te raak. Die Nigeriërs is ook goedgunstiglik besig om ons jeug van dwelms te voorsien.
Al wat die Keiser en sy trawante nog nie vir ons land kon kry nie, is mense om die staatskas te plunder.
Eintlik nie nodig nie. Hulle doen dit sommer self.
