BlogsEditor's noteOpinion

En die keiser wag…

Ek wonder of die lot die keiser, sy harem en sy kroos ook oorval het soos dit ons gewone burgers van sonnige Suid Afrika, die land van melk en heuning oorval het.

Sit hulle ook by ’n Skandaal voor ’n morsdood TV, toegewikkel in komberse en ’n glasie whiskey in die hand sonder ‘eish’ want die het lankal gesmelt. Miskien probeer die keiser ons onderrig oor sy kultuur en dis hoekom hy Eksdom toelaat om die ‘switch’ te ‘flick’ so leer ons ‘hands-on’ om ’n lekker warm bola hoe om na die voorvaders te luister.

Daar is die wat sê die keiser flenter rond in ander lande, soos sy maatjie van langsaan Bob. In party van die ander lande is daar immers elektrisiteit en skoon water, so hy maak seker hy doen die Vader Cloete rondte en spring so die ‘total black-out’ vry.

Net die Engelsman se kop steek tussen die komberse uit en iewers in die donker weerklink sy stem soos hy mor oor die keiser en Eksdom.
Seg hy die keiser is stil-stil besig om ons land se probleme op te los. Vat nou maar die werkloosheidskwessie. Behalwe dat hy vir ‘n klomp Kubaanse dokters en Sjinese ‘watereksperts’ en ‘mêchanieks’ werk gegee het, het hy nog twee geheime agente ook aangestel.

Die een agent, Igor Latdjyvokof (kodenaam XOX) het hy vanuit Siberië laat kom. Sy taak is om die vlaag van vreemdelingshaat te ondersoek. Hy moet vasstel of Jan van Riebeeck of apartheid aanleiding daartoe gegee het. Hy kry benewens sy salaris gratis verblyf in ‘n vyfster hotel van sy keuse asook gratis vervoer. Igor Latdjyvokof is wel in besit van ‘n Siberiese ysslee lisensie maar daarmee kan hy slegs ‘n minibustaxi in die Republiek bestuur. Daar is besluit dat ‘n minibustaxi te opsigtelik vir sy doel sal wees.

Die ander geheime agent is ‘n sy. Haar naam is ‘n geheim, haar land van afkoms is ‘n geheim en wat sy gaan ondersoek is ook ‘n geheim. Selfs haar salaris en waar sy tuisgaan is ook ‘n geheim. Al wat van haar bekend is, is dat sy ‘n ‘undercover’ blond is. Dit is nou ‘n brunet wat haar hare blond gekleur het, in ons taal ‘n bottel-blondine. Sy het ‘n week gelede op Ysterplaat gearriveer. Die vliegtuig personeel was aangesê om donkerbrille te dra sodat sy nie herken kan word nie. Sy is glo baie beïndruk met die republiek se medici. Die eerste oggend toe sy regmaak vir ‘n geheime perskonferensie was sy verskriklik ontsteld toe sy agterkom dat haar linkerbeen skielik korter as haar regterbeen is. Inderhaas is na ‘n Kubaanse dokter se spreekkamer geneem. Na ‘n deeglike ondersoek het die dokter aanbeveel dat sy haar linkerskoen ook moet aantrek. So gesê so gedaan en siedaar! Sy loop nou normaal.

So ja, onse keiser is besig om al ons land se probleme op te los, so ’n man verdien mos ’n Bells. Ek stem saam met die Engelsman, dis tyd dat die keiser bietjie XOX en die blond hier na Emmawillielênie stuur. Ons almal wag geduldig om te hoor waarheen gaan die miljoene wat ons elke maand aan elektrisiteit betaal, dit kom mos nie by Eksdom uit nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button