
Oor die afgelope naweek het ek besef ek gebruik nie meer geld nie.
Ek wens dit was die waarheid, maar in realiteit het my lewe verander ’n kontantloos, kaart-georiënteerde lewenstyl.
Ek het hoeka nog ’n winkellojaliteitskaart by my versameling gevoeg. Dit kon ek net nie weerstaan nie, hulle belowe dan ʼn verdere 10% afslag op uitverkopingsprys.
O, ja en toe bel ’n konsultant my en verlei my met ’n kredietkaart waarmee ek punte kan verdien om na Mauritius te vlieg of, as ek X bedrag per jaar spandeer, na enige van hul 400 ander bestemmings!
Ek weet nie hoe gaan ek dit balanseer met my huidige krediet wat my aanpor om gesonder te eet en in ruil daarvoor ’n paar ekstra randjies my kant toe te gooi nie.
Daardie konsultante weet net hoe om my kooplus aan te wakker, so gee ek geld uit wat ek doodeenvoudig net nie het nie.
Dis toe ek die wonderlikste nuus ooit kry, omdat ek my motorlening so mooi bestuur, kwalifiseer ek vir ʼn persoonlike lening terugbetaalbaar oor 12 maande.
Elke dag is daar ’n ou verrassingtjie in my posbus, soos die winkelrekeningkaart waarvoor ek nie aansoek gedoen het nie.
Mensig, ek moet spesiaal wees as hulle al die kaarte vir my stuur, dalk weet hulle iets wat ek nie weet nie. Ek weet net ek het nog nie die Lotto gewen nie.
Op die kampus waar organisasies en besighede wedywer om my kooplus te bevredig teen hemelhoë rentekoerse, is ek besig om tred te verloor met almal en hul beloftes.
Ek sal my beursie moet inruil vir ’n aktetas, want die beursie is al tot barstens toe vol met kredietkaarte, biblioteekkaartjies, die videowinkel se kaartjie, ’n kaartjie vir die Gautrein en natuurlik die noodsaaklike lisensiekaart, ’n kaart vir elektrisiteit, mediese fonds en al die lojaliteitskaarte.
Ja, seg die Engelsman, hy gaan ons pondokkie so inrig dat jy jou kaart om jou nek moet dra en ‘swipe’ al wil jy selfs net toilet toe gaan.
Ons gesprek draai by tegnologie, die Engelsman is van mening dat ons in die nabye toekoms ’n vingerafdrukherkenning skyfie onder jou vel ingeplant gaan kry en jy met jou vingerafdruk alles kan koop, dis regtig grillerig en rowers gaan nou jou vingers afsny om jou inligting te bekom.
Na die soveelste ‘eishie’ in die Engelsman se glasie smelt, begin hy onbeheers lag en sê een van die dae gaan selfs die karwagte en ‘pirate DVD-verkopers’ met hul eie Nedbank masjientjies rondloop.
