BlogsOpinion

Brood, botter en ’n loesing

Elke brood het twee kante...

Ons kuikentjie het vroeër die week sy verjaarsdag gevier. Selfvoldaan het hy vier vingertjies die lug ingesteek en tong in die spasie waar daar voortandjies was, aangekondig hy is vier jaar oud.
Ten midde van die verjaarsdagvieringe het die #FeesMustFall-veldtog in my agterkop rondgedobber.
Elke brood het twee kante, maar ek neig om my meer te skaar aan die kant van die studente wat dit reggekry het dat die fooikwessies onmiddellik aandag geniet.

Dit was oral op koerantvoorblaaie uitgebasuin en sosiale media het gegons oor die studente wat demonstrasies voor die Uniegebou en kampusse gedoen het.
Uit een stem het hierdie gesigloos, naamlose studente dit reggekry om gehoor te word. Na beraadslaging het President Zuma aangekondig dat daar ’n nul present-verhoging in studentefooie vir 2016 sal wees en befondsingsmeganismes uitgebrei sal word en visekanseliers van universiteite die eksamentydperk sal verleng om te kompenseer vir die tyd wat tydens die protesaksie verloor is.

Is die dae verby waar tradisionele skole gefokus het op die waardes van netheid, orde en dissipline. Word hulle aangespreek wanneer hulle nie meer in rye stap nie? Tereg is baie onderwysers bevrees dat, as jy leerders loslaat om hulle eie ding te doen, daar chaos sal wees.
My eie persoonlike opinie is dat kinders reeds op skoolvlak alles nie meer as vanselfsprekend aanvaar nie. Dit wat vir hulle nie sin maak nie, dit bevraagteken hulle. Dit wil deurskemer dat ons meer intellektuele en verbeeldingryke leiers kweek wat nie bang is om vrae te vra nie.
Hierdie kritiese kreatiewe denkers, ons leiers van môre kan in een groep van een plek na die volgende beweeg sonder om in rye te stap.

Die klas van 2015 het geskiedenisboeke herskryf.
Dis nie noodwendig dat die Engelsman saamstem nie. Hy het geduldig geluister na my siening, rustig opgestaan en die ‘eish’ in sy whiskey gegooi.
“Ja, nee…. al wat vandag se kinners nodig het is brood, botter en ’n loesing op die boude op die regte tyd,” seg hy.

Hy is van die ou-skool en daar moet kinders nog gesien, maar nie gehoor word nie.
Studente is heel bereid om, as hulle besef hulle is laat, vinniger te draf. As jy hulle in groepe laat stap en jy verantwoordelik is vir hulle betyds-wees, dan gaan jy later begin om op hulle te skree.
En met die #FeesMustFall-veldtog het hulle die staat hul eie eksamen laat druip.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button