BlogsOpinion

Gekookte eiers vir aandete

Ek en die Engelsman het ’n nuwe pondokkie aangeskaf

Ek en die Engelsman het ’n nuwe pondokkie aangeskaf. Moenie dat die televisie jou flous nie, dis nie só ‘glamerous’ om ’n huis nuut oor te doen nie. Inteendeel ek is heelwat gryshare en hope plooie en ook natuurlik die nuwe pondokkie ryker.

Ons het besluit om die pondokkie ’n ‘facelift’ te gee en het woes begin verf. Maar, om elke aand van die werk af te kom en nog ’n paar vensterrame te verf het ons gou ondergekry.
Dis toe ek die vriendelike outjie raakloop wat by die buurman loseer en dié was glad te gretig om ook verfkwas in die hand in te spring.

Vir die eerste twee dae het dit baie goed gegaan en ek het die mannetjie meer as die gewone dag se loon en pizza gegee om die ou werkie af te handel.
Ek en die mannetjie het lank gesels en ek het die stukkende-oomblikke in sy oë gesien toe hy praat van die foute wat hy in die verlede gemaak het.
Teen die derde dag het ek hom al mooi vertrou en het glad die huis se sleutel vir hom gee, sou die natuur roep natuurlik.

Dit was die grootste fout wat ek kon maak.
Die klein swernoot het die splinternuwe stoof wat ek die week tevore ingesit het en ook ’n ‘compressor’ uit die huis uit gesteel.

Gelukkig kon ek op my sekuriteitskameras sien hoe ’n bakkie intrek en hulle my goed laai. Nadat die polisie weg is, het ek en my kuiken besluit om self te gaan soek.
Soos twee wafferse speurders het ons die pandjieswinkels gefynkam en ons goed opgespoor.
Maar dis nou hier waar die kinkel in die kabel kom. Moenie dink jy storm in en vat jou goed, laai dit op ’n bakkie en ry huistoe nie. Weereens is daar prosedures.

Eers moet die polisieman self gaan seker maak dis my eie goed. Tweedens met die ondersoekbeampte self gaan, die goed by die polisiestasie gaan inhandig en dan kan ek my eie goed uitteken.
So het ek al Vrydag die polisiestasie geskakel en sou die ondersoekbeampte my vergesel om my goedjies te gaan terugkry. Vrydag het gekom en gegaan, Saterdag het gekom en gegaan, Sondag het gekom en gegaan en Maandag het gekom en gegaan. Die ondersoekbeampte se foon is af en as jy die polisiestasie bel sit hulle jou deur en die telefoon lui homself van die mikkie af, maar niemand tel op nie.

Intussen is ek besig om aandele by die wegneem-restaurante te ‘koop’ met die dat ons elke aand nou nie kan kook nie.
Ek kan al eierdanse uitvoer van frustrasie, maar soos dit in sonnige Suid-Afrika gaan, moet ek nou maar wag dat die ondersoekbeampte eendag besluit my saak is belangrik genoeg dat hy aandag daaraan skenk.

Seg die Engelsman so ewe rustig, terwyl ek die eierdans doen moet ek gekookte eiers lê, want dié pondokkie se stoof is nog by die pandjieswinkel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button