
Siep-sopbraaiboud, husse met laaaang ore, kaalvoet skool toe gaan met net bruinpapier, plêstiek, ’n pen en ’n potlood.
Dit was die goeie ou dae, dae sonder komplikasies, Ritalin en sosiale media.
Ek was so geskok toe ek sien wat ouers als moet koop alvorens hul kuiken hul eerste dag groot skool aandurf.
Sou jy 20 jaar terug sê daar is nie meer iets soos ensiklopedies en woordeboeke nie, sou ek vir jou lag. Vandag word als vinnig ge’google’, foto’s op Facebook ge’share’ en as die kuiken honger is kan hy jou sommer gou sms met ‘Ma k wil tand, k ls vi mcdonalds’ of nog beter -sommer middagete aanlyn bestel.
“In my dae het die seuns mekaar se alies tydens pouse ‘gerob’. Vandag ‘bluetooth’ hulle informasie oor en weer,” het die Engelsman gemor.
Die tablet het ’n tweede handsak geword en jy sien net nie ’n kind sonder ’n selfoon nie.
Albasters, fietsry, rek-spring, klimraam klim, wegkruipertjie, aan-aan, vroteier en briefies stuur is van die lekker dinge wat ons gespeel het, vandag is dit net herinneringe. En die ergste van als, die kuikens glo jou nie as jy hulle van dit vertel nie.
Terug by die skoolbenodighede lys. Die ekonomie het die stad met ’n ‘upper-cut’ getref. Huishoudings kry swaar daar is skaars geld vir noodsaaklikhede.
Kuikentjies het elle lange lyste van benodighede wat hulle moet hê voor hulle skool gaan.
Daar is projekte aan die gang wat help om hierdie nood te verlig.
Mariska Velloen van Witbank 911 en ook Magda Schoeman en Ria du Preez van Witbank Caregivers is tans besig om skool benodighede in te samel vir minderbevoorregte kinders.
eMalahleni se inwoners het harte van goud en ons kyk na ons stad se mense. Daarom doen ek ’n beroep op elkeen om net ’n potlood of twee, ’n uitveër, penne of selfs skooltasse by hul maandelikse inkopielys te voeg en die kinders te help.
As jy meer betrokke wil raak skakel vir Mariska: 083 228 0014, Magda: 082 451 2148 of Ria: 081 327 0285 en help ’n kind glimlag.
Jy is dalk net die antwoord op ’n gebed van ’n mamma en pappa wat nie weet waar hierdie goedjies vandaan gaan kom nie.
