BlogsOpinion

Geen versoek is té klein nie

Ek het Blikaspaai en Blok myself in Afrikaans gespeel.

Afrikaans is my taal. My taal waarin ek leer lees het, Jan en San spring, Jan en San skop die bal, Jan en San waarmee ek geleer het waar om aa, ee, oo en uu klanke te gebruik. Ek het Blikaspaai en Blok myself in Afrikaans gespeel.

Afrikaans is die taal waarin ek my eerste liefdesbrief gekry het. Afrikaans is die ink wat uit my vingerpunte drup.
Dis die taal waarin ek bid, waarin ek die afgelope naweek gehuil het vir al die seer wat besig is om eMalahleni te verswelg.

Ek het woordeloos gestaan en luister hoe mans by God pleit vir ’n uitkoms. Ek het gesien hoe die son sy eerste strale vroegoggend oor die groepie mense gesprei het, ’n antwoord op die rou gebede wat deur die oggend stilte geklief het.
“My Here, my God by U is niks onmoontlik nie…..”
Skielik het ek besef hartseer, wanhoop, verlatenheid het ’n universele taal geword. Dis ’n taal wat jy kan praat sonder om ’n woord te sê.

Al praat jy Zulu, Xhosa, Engels of Afrikaans jou gebed is dieselfde as myne en die man en vrou langs jou.
’n Donker wolk het met die afleggings op die stad toegesak. Families weet nie waar môre se brood vandaan gaan kom of wanneer die bank aan die deur klop om hul kar of huis terug te vat nie.

Niemand weet of hy volgende by die galg moet staan en moet hoor sy môre is skielik afgekap nie.
Terwyl dié in beheer politieke speletjies speel, dobbel hulle met menselewens. Hulle staan nie vroegoggend tussen ’n handjievol mense en sien trane oor geharde mans se wange afrol nie. Hulle sien nie die hande wat getuig van jare se harde werk omhoog, smekend op antwoorde en hoop nie.

Ons God praat nie Afrikaans nie, Hy praat hartstaal. Hy hoor elke gebed…
Ek klou vas aan God se belofte in Josua 1:9 “Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is oral waar jy gaan.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button